Victoria is trots vrou in ’n manswêreld
Tanja Bause - Wanneer sy soggens aanmeld, is sy mooi aangetrek en keurig gegrimeer en lyk sy soos ’n behoorlike kantoordame. Trek sy egter haar oorpak aan, is sy die taai motorwerktuigkundige wat haar plek in ’n manswêreld kan volstaan.
Die 27-jarige me. Victoria Shipingana is een van twee vrouewerktuigkundiges in diens van Pupkewitz Toyota. Haar kollega, me. Helena Elindi, is by die tak in Oshakati werksaam en Shipingana in Windhoek.
“Ek weet ek is ’n meisie, maar van kleins af het ek seunsgoed gedoen. Ek het sokker gespeel en my pa se beeste opgepas. Ek het altyd geweet ek wil graag ’n motorwerktuigkundige word en het in 2011 by die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) in Keetmanshoop met my klasse begin,” het Shipingana gesê.
Volgens haar was sy een van drie vroue wat met die kursus begin het. Haar twee klasmaats het egter hul eerste jaar gedruip en sy was die enigste vrou wat die kursus voltooi het.
“Dit het my glad nie gepla dat ek die enigste vrou tussen al die mans was nie, dit pla my vandag steeds nie. Ek het ’n droom gehad en ek wou dit verwesenlik.”
Shipingana het in 2014 as vakleerling by Pupkewitz Toyota begin. Vandag het sy ’n vakleerling wat sy weer op haar beurt touwys maak.
“Victoria hoef vir niemand terug te staan nie.
“Sy doen presies dieselfde werk wat enigiemand met haar kwalifikasies sal doen,” het mnr. Callie Schonken, diensbestuurder gesê.
Volgens Shipingana word geen onderskeid tussen haar en haar manlike kollegas getref nie en sien haar manlike kollegas haar as "net nog ’n werker".
“Soms is dit vir my moeilik om ’n baie groot moer los te draai, dan vra ek om hulp en ’n kollega maak dit vir my los sonder om enige aanmerkings te maak. Ek doen net my werk en my kollegas sien my as net nog ’n werker en nie as ’n vrou nie.”
Volgens mnr. Anton Westraadt, handelaarshoof van Pupkewitz Toyota, het die maatskappy ’n groot vroue-teenwoordigheid in die werkwinkel met twee bestuurders wat vroue is.
Werktuigkundiges het ’n teiken wat hulle elke maand moet bereik.
“Verlede maand het ek ’n teiken van 110 ure gehad. Ek het 195 ure gewerk wat beteken ek kry ’n bonus. Ek was baie trots daarop dat ek die teiken kon haal en dit só ver kon verbysteek,” vertel sy.
Volgens Shipingana kan vroue sogenaamde "manswerk" doen en behoort hulle nie daardeur afgeskrik te word nie of daarvoor terug te deins nie.
“Wanneer jy ’n werk in gedagte het wat jy graag wil doen, gaan doen dit. Almal kan enigiets doen, daar is geen beperkings nie. Ek het in ’n sogenoemde manswerk belang gestel en werk nou as ’n motorwerktuigkundige. Ek geniet my werk elke dag.”
Haar droom is om eendag haar eie onderneming op haar tuisdorp naby Ondangwa te open waar sy voertuie kan herstel en mense in diens kan neem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie