Vet pryspot wag op hengelaars
Des Erasmus
'n Handige geldjie kan aan die hoek kom wanneer honderde hengelaars op 25 Augustus aan die groot kompetisie gaan deelneem wat jaarliks een van die hoogtepunte van die Hentiesfees is. Die gesamentlike pryspot beloop N$60 000.
Die prysindeling is pas deur die Hentiesbaai-hengelklub as aanbieders van die byeenkoms aangekondig. Die feestent sal die basis van die byeenkoms wees met die vanggebied wat van suid van Walvisbaai tot by die Ugabrivier as grens na die Skedelkuspark sal strek. Niehengelaars kan ook wenners wees deur aan 'n gelukstrekking as deel van die groot hengeldag deel te neem.
Vanjaar is daar geldpryse vir die kampioenhengelaar en die naaswenner. Die hengelaar met die grootste vis sal met N$10 000 beloon word, en vir die naaswenner gaan daar N$6 000 wees.
In die gebruiklike kategorieë vir kabeljou, steenbras, galjoen en kolstert sal die wenners en die naaswenners beloon word. In elke kategorie sal die wenner N$4 000 en die naaswenner N$2 000 kry. Selfs die grootste onder die nederige babers gaan N$1 000 werd wees. Kom daar 'n groot roofvis, gewoonlik 'n leervis of 'n elf, aan die hoek gaan die grootste onder die skaars spesies ook 'n hengelaar se beursie laat bult.
Die aantreklikste pryse in die gelukstrekking is naweekverblyf in gewilde toeristeoorde. Die geldwaarde van die verblyfpryse kan tot N$3 000 beloop.
Te oordeel aan vangste die afgelope weke lyk kabeljoue na die sterkste aanspraakmakers op die groot pryse. Die beste kabeljouvangste is noord van Hentiesbaai behaal. Steenbras was die afgelope weke bra skaars.
Kaartjieverkope vir die hengelkompetisie het reeds begin en is by die meeste handelaars in hengelgerei langs die kus beskikbaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie