Vervalste geld in Erongo gekonfiskeer

Augetto Graig
Augetto Graig – Wees waaksaam vir die omloop van vervalste banknote, waarsku die Namibiese polisie, nadat vyf verdagtes Sondag met vals N$200-note op Usakos betrap is. Hulle is met vervalste geld ter waarde van N$30 600 betrap.

Die verdagtes het Dinsdag in die dorp se landdroshof verskyn. Volgens die polisiebevelvoerder in die Erongostreek, komm. Andreas Nelumbu, is hulle in aanhouding tot 7 Februarie wanneer hulle formeel vir borgtog mag aansoek doen.

Mnre. Petrus Efraim (25), Lasarus H. Shituula (42), Johannes Gaseb (45), Temus Iitengula (52), en me. Emilie Efraim (38) staan tereg op klagte van die oortreding van die wet op vervalste geld.

Die polisie is ook op die spoor van ’n sesde man wat hulle vermoed die vervalste note vervaardig het. Die vermoedelike baasbrein is na bewering reeds N$7 800 betaal om die Amerikaanse note te vervals, volgens die polisie.

Banknote wat in ’n silwer metaalhouer versteek was, is in die Big Brother-gastehuis op Usakos gevind waar vyf van die verdagtes tuis gegaan het. Die note was aan die een kant gedruk soos Amerikaanse banknote en skoon aan die ander kant, het hy gesê.

Ander bronne sê dit was terwyl hulle op soek was na dié man dat die vyf herhaaldelik na die gastehuis teruggekeer het en die eienaar agterdogtig begin raak het.

Nelumbu sê: “Ons vermoed die houer was deel van die toerusting wat gebruik is om die vervalste note te vervaardig.

“Die publiek moet waaksaam wees as hulle banknote van enige aard ontvang. Daar is altyd ’n verskil tussen ’n egte noot en ’n vervalste noot, as mens met ’n kritiese oog daarna kyk. As hulle enige verdagte banknote sien moet hulle onmiddellik die naaste polisiekantoor nader,” sê hy. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer