Verval bring skade en skande
Verval bring skade en skande

Verval bring skade en skande

Die gebrek aan instandhouding van sportstadions is maar net een van vele kopsere vir die NFA.
Tielman van Lill
Sportredaksie – Namibiese sokker steier toenemend van die een laagtepunt na die volgende – op en van die speelveld.

Van die vervalle toestand van sy twee stadions wat beide ongeskik vir die aanbieding van internasionale wedstryde bevind is, tot die voortdurende onvermoë om ’n nasionale klubliga aan die gang te kry, tot vandeesweek se skorsing van die Namibiese Sokkervereniging (NFA) se president Ranga Haikali en hernude tweespalt in die topbestuur – dié sportliggaam bly oënskynlik sy eie grootste vyand.

Die Sam Nujoma-sokkerstadion in Katutura en die Onafhanklikheidstadion in Olympia is onlangs deur die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) as benede peil en te gevaarlik vir internasionale wedstryde geklassifiseer.

Namibië het dus sy aanbiedingsreg vir internasionale kragmetings verloor en die Brave Warriors sal dus vroeg volgende maand hul tuiswedstryd teen Kongo (Brazzaville) as deel van hul veldtog om Wêreldbeker-kwalifisering in die Orlando-stadion in Soweto, Gauteng, moet gaan speel.

Dieselfde geld vir die daaropvolgende “tuiswedstryde” teen Senegal en Togo in Oktober. Voeg die Namibiese senior vrouespan en o.20-manspan se wedstryde by, en die toerkoste beloop etlike miljoene. Onttrekking is ook nie ’n opsie nie, vanweë die boetes en skorsings waarmee sulke optrede deur die kontinentale beheerliggaam gestraf word.

Die NFA is reeds in April met N$85 800 deur CAF beboet omrede hy internasionale wedstryde in Katutura aangebied het.

Die Sam Nujoma-stadion met sy kunsmatige speeloppervlak, wat aan Windhoek-munisipaliteit (CoW) behoort, is die amptelike nasionale tuiste van sokker in Namibië. Die NFA is veronderstel om al sy internasionale wedstryde daar aan te bied.

Behalwe dat die kunsoppervlak te erg verweer is, het ’n gedeelte van die ooppawiljoen aan die oostekant reeds in 2015 inmekaar getuimel.

Die kunsmatige oppervlak sal heeltemal vervang moet word, terwyl die gebrek aan behoorlike sitplekke vir die spanne en beamptes ook ’n tekortkoming is. CAF vereis dat in die hele stadion vir elke individuele toeskouer ’n eie stoel gebied moet word.

Die kleedkamers moet ook tot op internasionale standaard gemoderniseer word. Die media- asook mediese fasiliteite skiet volgens CAF ook te kort, saam met algemene verbeterings wat in die stadion gedoen moet word alvorens CAF en die wêreldbeheerliggaam Fifa die venue enigsins weer die groen lig sal gee.

Namibië bevind hom in die oneervolle geselskap van Burkina Faso, Eswatini en Sierra Leone wat ook stadions buite hul landsgrense moet opsoek om hul uitdunwedstryde vir die 2022 Wêreldbeker in Katar te speel.

Volgens die NFA kos dit N$1 miljoen om ’n internasionale wedstryd plaaslik te huisves, maar dié bedrag verdubbel indien die wedstryde in Suid-Afrika gespeel word.

Mnr. Dan Kamati, woordvoerder van die NFA, het aan Republikein gesê: “Ons almal weet van die probleem en die swak toestand waarin ons stadions tans verkeer en ons kan nie internasionale wedstryde daar aanbied nie. Die NFA het op eie koste die Orlando-stadion in Soweto bespreek vir Namibië se komende wedstryde aanstaande maand.”

Die ou Katutura-sokkerstadion is in 2004/5 teen N$64 miljoen deur die munisipaliteit opgegradeer en is amptelik op 13 Augustus 2005 geopen.

Dié venue was hoofsaaklik vir sokkerwedstryde bedoel asook die aanbieding van musiekkonserte en kultuurfeeste. Die huurinkomste (destyds ’n beraamde N$4 500 per dag vir sokkerwedstryde) is beloof om instandhouding mee te doen.

VIER DEKADES GELEDE

Die Onafhanklikheidstadion met sy grasoppervlak en tartanbaan is oorspronklik net vir atletiek gebou. Dié stadion behoort aan die Namibiese regering, maar sedert dié pronkstuk in 1980 in gebruik geneem is, is vir dekades geen onderhoudwerk gedoen nie.

Die ergste by die atletiekstadion is die verweerde stoele op die hoofpawiljoen wat vervang moet word. Geen strukturele defekte is te bespeur nie, maar die grasoppervlak sal heeltemal vervang moet word en so ook die oeroue besproeiingstelsel wat vodde is.

Die speeloppervlak is ongelyk en die rooimierplaag sal ook uitgewis moet word wat die tartanbaan net soos die weermagvoertuie onherstelbaar verniel.

Aangesien die atletiekstadion en sy fasiliteite reeds vier dekades oud is, sal dieselfde opgraderings as by die Nujoma-stadion gedoen moet word.

Die vraag is, wie sal pa staan vir die opgradering? Die kans dat CoW die stadion in Katutura gaan verbeter, is meer belowend as wat die staat sy Onafhanklikheidstadion gaan opknap.

Mnr. Harold Akwenye, CoW se korporatiewe kommunikasiebestuurder, het in die nadraai van CAF se optrede gesê die herstelwerk aan die Sam Nujoma-stadion sal so spoedig moontlik aan bevoegde partye toegeken word.

“Daar is die 2021-’22-boekjaar vir opknappings begroot en ons wag vir die goedkeuring daarvan. Die speelveld moet gelyk gemaak en in geheel verbeter word. Daar is probleme met die dreineringstelsel en die hele veld moet herstel word.”

[email protected]

FOTO
Die Onafhanklikheidstadion, wat reeds ongeskik vir sokkerwedstryde is, se ongesnyde gras maak dinge ongemaklik vir veldatlete wat gewigstoot, diskusgooi of spiesgooi wil oefen. Foto verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer