Vertroue in landbou versterk
Vertroue in landbou versterk

Vertroue in landbou versterk

Volhoubare groei vereis vrye bedryf
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die landbousake­kamer, Agbiz, se vertrouensindeks het in die derde kwartaal oor die algemeen verbeter.

Die vraag is hoe blywend dié verbetering is en of dit nie net 'n opflikkering van vals hoop is nie. Dit is dus nodig om perspektief te gee oor wat in die jongste verandering te lees is.

Die indeks is op sigself betekenisvol en 'n waardevolle aanduiding van hoe landbou-ondernemings tans oor sake voel. Verder is dit ook 'n belangrike aanduiding oor verwagtinge in terme van landbou se bydrae tot die ekonomie, want landbou-ondernemings ontsluit die meeste waarde ná die plaashek.

Die beweging van die indeks in die derde kwartaal is veral insiggewend teen die agtergrond van die tyd waarin die data ingesamel is. Die opname is in die eerste twee weke van September gedoen terwyl daar nog geswoeg is om die ekonomie te herstel namate inperkings gelig is en groter duidelikheid ten opsigte van beleid nodig was.



LANDBOU PRESTEER

Die jongste bruto binnelandse produk (BBP)-statistieke het die waarde van 'n groeiende landbousektor opnuut beklemtoon deurdat dit die enigste sektor was wat positief tot die BBP bygedra het.

Dié positiewe bydrae het die val van die ekonomie ietwat versag. Dit is belangrik om te besef dit is gedoen terwyl min steun van die staat ontvang is – boere moes gevoel het asof hulle opdraande swem.

Die indeks bestaan uit 'n aantal subindekse en vordering hiervan was uiteenlopend.

Die marksegment-sub­indeks het met 1 punt tot 64 toegeneem. Die toename word toege­skryf aan die insameling van na-oeste en die hantering van die somergraanoes – die tweede grootste in die geskiedenis.

Die goeie oes, en pryse wat hoër as verwag was, het die subindeks van kapitale belegging laat styg, maar op 44 dui dit nog op ruimte vir verbetering.

Aankope van roerende bates het toegeneem en was 'n ligpunt.

Dié verandering dui op die vervanging van bestaande tegnologie, maar ook op vernuwing en kan 'n blywende positiewe impak hê.

Ongelukkig flikker daar rooi ligte ten opsigte van die subindekse vir voorsiening vir slegte skuld en finansieringskoste. Na verwagting moes lae en dalende rentekoerse die druk hierop verlig het.



MINDER ARBEIDERS

'n Subindeks, wat indiensneming aandui, het gedaal, wat 'n direkte gevolg van die pandemie is, maar kan ook dui op die permanente herskikking as dit by landbou se absorberingsvermoë van arbeid kom.

Die tendens vra vir hersiening van die nasionale ontwikkelingsplan, waar 'n groot premie op werkskepping in landbou geplaas word.

Die subindeks vir ekonomiese omstandighede het verbeter, maar is tans nog ver onder die neutrale 50-merk. Dit dui op 'n mate van negatiwiteit oor die beperkings gedurende die grendeltyd, wat vooruitsigte belemmer.

Die subindeks vir landbou-toestande is die hoogste in jare ná 'n verbetering van 27 punte tot op 79.

Uitvoere was gestrem, maar het desondanks met 'n stewige 19 punte toegeneem tot die 55-merk. Landbou het vervolgens 'n positiewe handelsbalans en wys hoe daar munt geslaan kan word, met 'n swak geldeenheid en surplusse.

Die jongste beweging van die indeks dui op landbou se waarde, wat die ekonomie se insinking enersyds gebuffer het, maar ook duidelik gewys het wat gedoen kan word.

Hierin is belangrike lesse opgesluit.

Landbou het die vermoë om selfs die staat se inperkende beleid te oorkom. Landbou het duidelik gewys die regering moet sy siening oor die sektor se rol in die heropbou van die ekonomie hersien. Landbou moet buitengewone ondersteuning oor 'n wyer boeg ontvang.

Die momentum wat bestaan, is geskep en volhoubare groei sal afhang van hoe vry die landbousektor kan wees. Dié ekonomiese trein lóóp en indien die staat wil opklim, sal die prys beleidsekerheid wees.

Kommentaar

Republikein 2025-06-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer