Verstekeling het dalk in Jhb opgeklim
Verstekeling het dalk in Jhb opgeklim

Verstekeling het dalk in Jhb opgeklim

Die polisie in Nairobi ondersoek die moontlikheid dat die verstekeling wie se gevriesde lyk verlede Sondag uit ’n vliegtuig geval en in ’n tuin in Londen te lande gekom het, in Johannesburg in die kompartement van die vliegtuig se landingstoerusting gaan wegkruip het.

Die vliegtuig wat van Nairobi op pad was na Londen, het net voor dit uit Johannesburg in die Keniaanse hoofstad geland.

Die vlug van Johannesburg na Nairobi is vier uur lank en die Kenya Airways-vlug het volgens The Mirror 07:00 daar aangekom.

Twee uur later is dieselfde vliegtuig Londen toe.

Dit beteken die man sou 15 uur lank op die vliegtuig gewees het voordat sy lyk in ’n tuin in Clapham, in die suidweste van Londen, beland het net voordat die vliegtuig op Heathrow-lughawe sou land.

Soos vroeër berig het die lyk binne meters van 'n man wat in sy tuin in die son gelê en bak het te lande gekom.

Charles Owino, polisiewoordvoerder in Nairobi, sê hulle moet vasstel hoe dit kon gebeur sonder dat iemand dit gesien het.

“Ons ondersoek die moontlikheid dat dit in Suid-Afrika gebeur het. Daar was al voorheen verstekelinge op vlugte van Suid-Afrika na Kenia.”

The Sun berig egter die man se vingerafdrukke is na Nairobi gestuur sodat sy identiteit bepaal kan word en dat bronne in die land meen hy was ’n werker op die lughawe wat sy veiligheidsklaring gebruik het om toegang tot die vliegtuig te kry. Die lughawe-owerheid in Kenia bestudeer ook beeldmateriaal van kringtelevisie van tot 24 uur voordat die vliegtuig vertrek het en ondervra alle personeel wat in kontak met die vliegtuig was. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer