Verstekeling gevang in vliegtuig se vragruim

Augetto Graig
Augetto Graig



Asof in ''n rolprenttoneel het sake Dinsdag net voor agtuur die oggend by die Hosea Kutako Internasionale Lughawe afgespeel toe ''n verstekeling se harde gesnork in die vragruim hom verklik het.

Terwyl die ingenieurs­tegnici besig was met roetine-inspeksie van ­Ethiopian Airlines se Boeing 733-900 (ET-ASJ), het een opgemerk dat die seël na die vragruim gebreek was. Verdere ondersoek lewer toe ''n man op wat binne dié ruimte lê en snork, vertel adj.komm.Edwin Kanguatjivi, hoofwoordvoerder van die polisie.

Kanguatjivi vertel dat die man onmiddellik in hegtenis geneem is. Later is vasgestel dat hy as ''n burger van Lesotho hom onwettig in die land bevind.

Hy is aangekla vir oortreding van beide die Wet op Immigrasiebeheer en die Wet op Lugvaartveiligheid.

Terwyl die ondersoek deur die polisie voortgesit word, het Kanguatjivi alle verdere navrae na die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) en die ministerie van binne­landse sake en immigrasie verwys.

NAC-woordvoerder mnr. Dan Kamati kon egter slegs bevestig dat die voorval wel plaasgevind het.

Amptenare van Ethiopian Airlines het op hul beurt vrae na die NAC of die polisie terugverwys.

Woordvoerders in die ministerie van binnelandse sake en immigrasie het nie op e-posnavrae of telefoonoproepe reageer nie. Die naam van die beskuldigde is nie bekendgemaak nie en vrae oor hoe en wanneer toegang tot die vliegtuig gekry het, bly onbeantwoord.

Daar is ook onsekerheid oor wanneer hy in die hof sal verskyn en wat verder met hom sal gebeur.

Kommentaar

Republikein 2025-09-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer