Versoening is nie goedkoop

Mandy Rittmann
REGGIE DIERGAARDT SKRYF:

Versoening is nie goedkoop nie.

Dit het die Seun van God, Jesus Christus, Sy lewe gekos.

Versoening beteken nie die handige versluiering van die kwaad nie. Dit beteken nie om maar net alles onder die mat te vee en aan te gaan asof niks gebeur het nie. Dit vra vir eerlike en opregte boetedoening.

Dit sê ek nie ligtelik nie; inteendeel, eerder met baie groot erns.

Ons ken oorlog. Dit bring pyn, onsekerheid, haat en bitterheid - geen bousteune vir 'n gelukkige, vredevolle en welvarende gemeenskap nie.

God het bedoel dat ons as sy skepsele vredig moet bestaan. Maar lyk my sommige van ons wil dit omkeer, teen Sy skepperswil.

Ek sê dit na aanleiding van die ver­skuilde dreigement, al ontken hy dit, van ene Ben Shikongo, president van die NNLVA en ek haal hom verbatim aan: “As battle-tested combatants and commanders of the liberation struggle, no one should expect us to sit idle when our hard-won indepen­dence and peace that we bitterly fought for and is torn up by yesteryear reactionaries and tribalists, who lack an understanding of this country's liberation history.”

My eerste reaksie op hierdie opmerking was hoe lank wil die heersersklas ons nog gevange hou in die uitgediende kultuur van vrees en retoriek en ons so beheer, terwyl hulle hulself onbeskaamd ryk steel en daardeur die armes verkneg? Hoe kom ons verby vandag se wanorde na iets wat weer lyk na 'n hoopvolle toekoms? Die eerlike geskiedenis in hierdie verband moet nog geskryf word.

Geen wonder dat die struggle-teoloog, dr. Allan Boesak, by geleentheid opgemerk het: “Ons het pynlike goed soos rassisme in 'n te vlak graf begrawe en met die eerste provokasie staan daai spoke alte maklik op.”

Het ons as Namibiërs nie dalk die geleentheid gemis om te bieg nie? Eerlik en opreg.

Het die regering maar net nasionale versoening misbruik om die ongekende misdade van die struggle te verbloem?

Ons soek antwoorde want dit raak mense se lewens. Bloed en vlees soos ek en jy.

Soos Aubrey Matshiqi gesê het: “Of ons daarvan hou of nie, ons het 'n gemeenskaplike lotsbestemming. Almal van ons moet voel ons behoort hier, nie net kragtens wetlike formaliteite nie, maar ook nie-substantiewe en emosionele terme.”

Terloops, mede-landgenote, ons is nie hier op uitnodiging van een of ander weldoener nie. Ons hoort hier. Hierdie is ons land wat ons innig lief het.

Hier wil ek leef en sterf. My gebeendere moet die grond van hierdie geharde land bestuif.

Ek het nêrens anders om heen te gaan nie. Wil ook nie.

Mede-Namibiërs, te midde en ten spyte van hierdie uitdagende tye wat ons tans beleef, moet ons bly glo dat die God van die eeue ons nie sal versaak nie. Hoekom sou hy wou? Hy is immers ons Skepper God. Hy bly getrou.

Ek bid dat Namibiërs verlos sal word van 'n geslag van futlose, selfsugtige, kortsigtige, visielose leiers wat lank gelede reeds die swaarverdiende erfgoed van ons nageslag roekeloos verkwansel het en die morele kompas van ons nasie vir 'n pot lensiesop verbeur het.

Terloops, kritici vra hoekom ek in Afrikaans skryf en my antwoord is gewoon ek skryf uit my hart uit en nie uit my kop uit nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer