Verslag oor probleme by Eskom glo nog geheim
Dit blyk 'n forensiese verslag oor probleme by Eskom wat deur 'n internasionale konsultant opgestel is, word geheim gehou en net enkele direksielede het toegang daartoe, berig Business Day.
Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, het in April 2015 met die aanstelling van Brian Molefe as waarnemende hoof van Eskom gesê die internasionale maatskappy Dentons is aangestel om Eskom se probleme te ondersoek, is destyds berig.
Dit was in reaksie op die landwye voorkoms van beurtkrag asook ongelukke by Eskom soos die drukketel by die Duvha-steenkoolkragstasie wat in Maart 2014 ontplof het, en 'n silo by die Majuba-steenkoolkragstasie wat ineengestort het.
Brown het destyds gesê sy het in Maart 2015 opdrag gegee vir die internasionale en onafhanklike ondersoek want sy was woedend omdat Eskom nie aan haar kon verduidelik waarom dié ongelukke gebeur het nie.
Die ondersoek deur Dentons is toe deur Zola Tsotsi, destyds voorsitter van Eskom, aangekondig. Benewens die redes vir beurtkrag moes Dentons uitvind hoekom daar soveel vertragings in Eskom se bouprogram was.
Ondersoek
Volgens Business Day het die huidige Eskom-voorsitter, dr. Ben Ngubane, gesê die verslag van die Dentons-ondersoek is aan Brown oorhandig en dat die aanbevelings in werking gestel is.
Brown het egter verlede week luidens berigte gesê dié ondersoek was onvoldoende en verdere ondersoek is nodig omdat dit in net drie maande afgehandel is.
Vier topamptenare van Eskom, insluitende die destydse uitvoerende hoof Tshediso Matona, asook Matshela Koko, tans waarnemende Eskom-hoof maar destyds groepbestuurder vir tegnologie en kommersieel, is hangende die ondersoek geskors. Matona en die ander twee het later bedank, maar Koko se skorsing is opgehef.
Dentons se ondersoek sou aanvanklik net R22 miljoen gekos het, is in Junie 2015 berig, maar volgens Business Day is hulle op die ou end R27 miljoen betaal vir die drie maande se werk.
Adv. Anton Alberts van die VF Plus het dit bevraagteken waarom Dentons aangestel is om Eskom se finansies en infrastruktuurkwessies te ondersoek, aangesien dit eintlik 'n prokureursfirma is. Hy het gemeen die openbare beskermer (OB), wat gemagtig is om die nodige kundiges te betrek, moes eerder die ondersoek gedoen het.
Intussen het Molefe voltyds Eskom-hoof geword, maar einde 2016 bedank nadat sy naam herhaalde kere met die omstrede Gupta-sakefamilie genoem is in die OB se verslag oor staatskaping, en Koko is in 'n waarnemende hoedanigheid in sy plek aangestel.
Eskom sê Dentons het in Junie 2015 aan die direksie verslag gedoen en 'n volledige plan is ontwikkel om die aanbevelings van die verslag in werking te stel. Dit was volgens Eskom nie in daardie stadium raadsaam om die verslag openbaar te maak nie omdat dit 'n negatiewe uitwerking op die personeel se moraal sou hê.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie