Vermeende rower sterf ná skietery met polisie

Francoise Steynberg
‘n Vermeende rower is vanoggend tydens ‘n rooftog in die hoofstad deur die polisie gewond waarna hy later in ‘n hospitaal beswyk het.

Volgens die nasionale woordvoerder van die Namibiese polisie, adj.komm. Kauna Shikwambi, het die voorval omstreeks 00:55 by ‘n besigheid in Wanaheda plaasgevind toe misdaadvoorkomingsbeamptes na ‘n rooftogtoneel ontbied is.

“Met hul aankoms by die perseel is een verdagte buite gevind en hy het homself aan die polisie oorhandig. Die een wat binne die gebou was, het uitgehardloop en vanaf ‘n nabye afstand op die polisie begin skiet,” het sy gesê.

“Die beamptes het teruggeskiet en die verdagte het steeds op die beamptes geskiet terwyl hy weggehardloop het. “

Die verdagte het volgens Shikwambi in ‘n rivierbedding verdwyn.

“Terwyl die beamptes na hom begin soek het, het die verdagte om hulp weens sy beserings geroep. Hy het verskeie skietwonde gehad,” het sy gesê.

‘n Ambulans is ontbied en hy is na die hospitaal gehaas.

“Ongelukkig het hy omstreeks 07:00 in die Katutura-staatshospitaal beswyk. Die oorledene is as mnr. Onesmus Nangombe geïdentifiseer,” het die polisiewoordvoerder gesê.

Shikwambi sê dié twee is as gewoontemisdadigers geïdentifiseer wat op borgtog vrygelaat is met hangende sake van diefstal, roof, huisbraak en die onwettige besit van ongelisensieerde vuurwapens teen hulle.

Die ander verdagte word by die Wanaheda-polisiekantoor aangehou.

Sommige van die gesteelde items asook instrumente wat gebruik word om in te breek, is op die toneel gevind.

Die polisieondersoek duur voort.

Shikwambi waarsku sake en -besigheidseienaars om te verseker dat hul eiendom deeglik beveilig is. Sy rig ook ‘n waarskuwing aan die publiek om die aandklokmaatreëls te gehoorsaam.

Foto's verskaf

Kommentaar

Republikein 2025-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer