Vermeende rower moet eksamen skryf
Vermeende rower moet eksamen skryf

Vermeende rower moet eksamen skryf

Ses mans wat na bewering Maandag tydens 'n rooftog met bykans 'n halfmiljoen dollar weggekom het, het gister in die hof verskyn.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Vyf Suid-Afrikaners en een Zimbabwiër wat Maandag in verband met 'n transito­roof by die Westlane Lifestyle-­winkelsentrum in Windhoek in hegtenis geneem is, het gister 'n eerste hofverskyning in die Windhoek-landdroshof voor landdros Alweendo ­Venatius gemaak.

Twee Namibiërs wat aanvank­lik saam met die rowers in ­hegtenis geneem is, is intussen vrygelaat omdat hulle nie by die misdaad ­betrokke was nie.

Die ses mans staan tereg op klagte van roof met verswarende omstandighede, die rig van 'n vuurwapen op 'n persoon, diefstal, poging tot moord en die nalatige afvuur of plasing van 'n vuurwapen en die afvuur van 'n vuurwapen in 'n openbare gebied.

Dié klagte spruit uit 'n voorval Maandag toe die ses mans na bewering 'n veiligheidswag van G4S van N$487 320 beroof het wat hy by 'n supermark in die winkelsentrum in Pionierspark moes oplaai.

Volgens die klagstaat het die be­skuldigdes, mnre. Kubeka Mthokozisi (27), Lukas Ndlovu (36), Vincent Martin Khumalo (41), Shane Ntandoyenkosi Moyo (23), David Vusi Vuthelezi (37) en Sibusiso Pumuzile Mguni (32), die veiligheidswag, Joseph Mushito Matongo, met 'n vuurwapen gedreig en hom geskop totdat hy op die grond geval het. Die staat beweer ook dat hulle 'n pistool wat in Matongo se besit was, tydens die voorval gesteel het. Hulle het na bewering ook geskiet in die rigting van mnr. Munioruzo Ngutjinazo wat op die toneel was.



beskuldigdes vasgetrek

Twee van die beskuldigdes is in Windhoek in hegtenis geneem terwyl die ander vier in 'n padblokkade voor ­Rehoboth vasgetrek is. Die ­Namibiese polisie het beslag gelê op drie voertuie wat as wegkomvoertuie gebruik is, en N$336 000 asook US$6 500 (ongeveer N$93 396) is ook gekonfiskeer.

Mnr. Khadila Amoomo, wat namens Moyo en Mguni opgetree het, het die hof om 'n bevel versoek wat Moyo, 'n Zimbabwiese burger en Unam-regstudent, in staat sal stel om sy ­eksamens onder polisietoesig af te lê. Die versoek is toegestaan, met dien verstande dat hy nie sal probeer ontsnap nie. Die landdros het ook 'n bevel verleen dat Moyo persoonlike ­dokumente onder polisiebegeleiding by sy huis mag afhaal.

Die saak is tot 26 Januarie vir verdere ondersoek deur die polisie uitgestel. Mnr. Tatelo Lusepani het namens die staat opgetree en ­Mthokozisi, Ndlovu, Khumalo en Vuthelezi is deur mnr. Immanuel Sumo Udjambala verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer