Vermeende Karibib-rassis in polisie se visier
Vermeende Karibib-rassis in polisie se visier

Vermeende Karibib-rassis in polisie se visier

Denver Kisting


Denver Kisting – Drie strafregtelike klagte staar ’n 52-jarige inwoner van Karibib in die gesig nadat sy glo onder meer gedreig het om vir pres. Hage Geingob te skiet.

Naas aanranding deur dreigement moet dié vrou waarskynlik pa staan vir ’n klag van rassediskriminasie en een van crimen injuria.
In ’n kommentaar op ’n plasing in die sosiale media onder die profielnaam “Sonja Isaaks” verwys die persoon in krutaal na die president.

Dít kom nadat die persoon wat die aanvanklike plasing op Facebook gemaak het, skynbaar wou weet of pres. Geingob op daardie betrokke dag die land sou toespreek – na verwagting oor die regering se maatreëls om die verspreiding van die Covid-19-pandemie hok te slaan.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die nasionale polisiewoordvoerder, het vanoggend (Vrydag) by navraag bevestig klagte is by die Karibib-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Volgens Shikwambi is die identiteit van die verdagte aan die polisie bekend, maar is sy nog nie in hegtenis geneem nie.
“Ná die voltooiing van die ondersoek sal die dossier na die kantoor van die aanklaer-generaal gestuur word vir ’n beslissing.”

Die woordvoerder sê die polisieondersoek duur voort.

’n Gesaghebbende bron vertroud met die saak het op voorwaarde van anonimiteit gesê: “Hierdie is ’n gevaarlike neiging wat besig is om pos te vat, en indien dit nie aangespreek word nie, kan dit buite beheer raak.”

Op dieselfde profiel het die persoon sedertdien aangevoer sy is geen rassis nie, was ten tye van die plasing onder die invloed van drank en is ’n psigiatriese pasiënt.

Intussen doen sy ’n beroep op Geingob om haar te vergewe en om ’n vergadering met haar te belê. “Ek bid vir bietjie private gehaltetyd met ons staatshoof, ’n paar ministers sou dit nodig wees, die polisiehoof indien nodig en eerste dame Monica (Geingos). Net omdat ek wit is en daardie aaklige wêreldbekende kommentaar gemaak het, beteken dit nie ek haat of is teen die president nie, en ek wil net weer hier vra: Hage, my broer, vergewe my asseblief, asseblief, en ontmoet my asseblief. Jy sál my vergewe en van my hou.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer