Verloor nie Steyn of blaser se skuld, su00ea Jake
Verloor nie Steyn of blaser se skuld, su00ea Jake

Verloor nie Steyn of blaser se skuld, sê Jake

Rugby
Cobus Claassen

Dit was nie Morné Steyn se skopblaps in die 82ste minuut of die skeidsregter se beslissings wat Saterdag in Durban tot die Bulle se ondergang teen die Haaie gelei het nie.

Jake White, afrigter van die Bulle, het ná afloop van sy span se nederlaag van 29-32 in die Curriebeker-kompetisie gesê hulle moet eerder hand in eie boesem steek. Dit is slegs die tweede keer wat die Pretorianers aan die verloorkant is sedert die seisoen in Oktober hervat is. Die Bulle was nog ’n kwartuur voor die einde met 29-20 voor, maar dit was die Haaie wat dié keer sterker geëindig het.

White sê: “Ek is teleurgesteld, want ons het baie kanse gehad en het met tye goeie rugby gespeel. Verloor is nooit ’n lekker gevoel nie, maar ek is nie bekommerd nie. Kyk so daarna: as twee van ons stelskoppe oor was, was ons nog onoorwonne die seisoen. Die verskil tussen wen en verloor is soms só klein.”

Ook Chris Smith het vroeër in die Superrugby Unlocked-kompetisie ’n doelskop mis geskop wat die Bulle sou laat gelykop speel het teen die Cheetahs in Bloemfontein. Wat het White gedink van die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, se geelkaart-beslissings van die Bulle-stut Jacques van Rooyen en Marius Louw, senter van die Haaie?

“Ons moet egter seker maak dat ons genoeg doen om te wen wanneer ons in sulke situasies is. Jy lees baie in die media van kopbeserings en harsingskudding en dit is die voorskrifte van Wêreldrugby. Ons moet toesien dat ons by die reëls hou,” sê White.

“Ons het nie elektrisiteit in die afrigterslosie gehad nie en die grootskerm het ook nie gewerk nie. Maar hy het die beslissing albei kante toe gemaak. Dit is nie my plek om daaroor kommentaar te lewer nie, want ons het in elk geval oorgenoeg kanse gehad,” verduidelik die breier.

Die tuisspan, met Dylan Richardson aan die voorpunt, het die Bulle by die afbreekpunte ontwrig. White sê dit is steeds die plan om die kaptein, Duane Vermeulen, nou ’n ruskans oor die volgende paar weke te gee.

“Hulle het hul huiswerk goed gedoen in die afdeling en dit is waarskynlik een van die redes waarom ons gesukkel het om ritme te kry. Dit is iets waarna ons sal moet gaan kyk. Die plan verander nie ná die nederlaag nie.

Ons kry konsepvoorstelle van Suid-Afrikaanse rugby en as dinge wel so uitwerk, sal ons in Januarie speel, waarna ons ’n paar weke sal afhê voor daar weer in Maart begin word. Dan is die aanduiding dat ons letterlik regdeur tot Junie 2022 speel. Jy sal dan spelers moet laat rus en ander kombinasies op die proef stel,” het hy afgesluit. Die Bulle kom Saterdag in Kimberley teen Griekwas te staan. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer