Verlies van Curriebeker kan gatslag wees

Provinsiale kompetisie is van groot waarde in die opbou na die Wêreldbeker.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Besluitnemers in die Namibiese Rugbymaatskappy en sy korporatiewe borge sal in die komende dae moet besluit hoe om te reageer op die nuus dat die Namibiese amateurspan nie weer meer einde Augustus aan die Curriebeker se eerste liga sal deelneem nie, tensy hy sy mededingers se reiskoste betaal.

Dié besluit is Vrydag op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se algemene raadsvergadering geneem.

Dit is 'n groot terugslag vir die unie wat soveel wedstrydtyd as moontlik sal wil inkry voor volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.

Namibië het tevore met min welslae in die eerste liga deelgeneem, maar is steeds toegelaat om dit te doen vanweë Saru se verbintenis om die buurland te help. Die Windhoek Draught Welwitschias was wel meer mededingend verlede jaar, maar het net een wedstryd – in Windhoek teen die Oostelike Provinsie – in dié liga gewen.

Die besluit is geneem nadat die Griffons dit op die agenda geplaas het omdat hulle nie meer die reiskoste kan bekostig nie. Volgens ingeligtes kos dit 'n span sowat R250 000 vir vlugte en verblyf per wedstryd en met die onlangse besnoeiing aan die toelae wat deur SA Rugby aan die klein unies betaal is, het hulle blykbaar geen keuse gehad nie.

Namibië is tans in die finale stadiums van sy veldtog om vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan te kwalifiseer. Komende Saterdag se wegtoets teen Zimbabwe in Bulawayo, gevolg deur die tuistoets teen Kenia op 18 Augustus, is die laaste twee oorblywende hekkies.

Namibië is onoorwonne in die Rugby Afrika Goue Beker-reeks, maar sy spelers wat nie op professionele vlak in Suid-Afrika of Europa speel nie, sou baie by die Curriebekerreeks gebaat het. Min mense kan betwis dat die blootstelling aan sterker kompetisie en harde werk om op peil te bly, die plaaslike spelers oor die laaste twee jare veel meer gehard en kompeterend gemaak het.

Die Welwitschias sou op 25 Augustus hul openingswedstryd in die Curriebeker eerste liga teen die Griffons in Windhoek gespeel het.

Nog wedstryde teen die OP, die Valke, Luiperds, SWD Arende, Grens Bulhonde en Boland Kavaliers sou daarna gevolg het. Die waarnemende hoofafrigter Roger Thompson se beplanning word gewis gedoen met 'n moontlike eerste kwalifikasie vir die semifinaal in gedagte.

Gister was die Namibiese Rugbymaatskappy se uitvoerende hoof, mnr. Mervin Green, nog in Suid-Afrika en het nie op telefoniese of e-pos versoeke vir reaksie gereageer nie. Sy mederaadslid mnr. Bradley Basson wou hom ook nie uitlaat voordat die raad vandeesweek byeen kom om die saak te bespreek nie.

Die Namibië Brouerye, wat as hoofborg van Namibiese rugby reeds 'n groot belegger in die sport op nasionale vlak is, se besturende direkteur, mnr. Wessie van der Westhuizen, het erken dat hy oor die naweek 'n lang gesprek met Green oor dié onderwerp gehad het. Hy het egter die koerant verwys om eerder amptelike reaksie van Green te verkry.

• Intussen duur die skaakmat-situasie tussen die sogenaamde vyf klein unies en SA Rugby voort oor die dreigende hofstryd tussen hulle.

Die Grens, Griffons, Luiperds, Valke en Boland wil hof toe gaan oor SA Rugby se beplande besnoeiing aan hul jaarlikse toelae.

Dit beteken dat die klein unies sowat 52% minder geld van die moederunie af gaan kry.

Die partye het Donderdag sonder sukses ontmoet in 'n poging om 'n oplossing te vind. Die unies het daarna besluit om voort te gaan met die hofsaak en ingevolge SA Rugby se grondwet moet hulle hulself nou tot 'n bemiddelingsproses verbind.

Dit is onbekend wanneer dit gaan begin. – Rapport en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer