Verkragting: 500 in nege maande vas
Verkragting: 500 in nege maande vas

Verkragting: 500 in nege maande vas

Volgens 'n studie is verkragters huiwerig om verantwoordelikheid vir hul dade te aanvaar.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Byna 500 mans en seuns onder 18 is vanjaar tussen Januarie en September in 815 verkragting­sake aangekla.

Nuwe inligting wat vandeesweek deur die polisie bekend gemaak is, dui aan 'n gemiddeld van 90 verkragtingsake word maandeliks aangemeld, wat tot die inhegtenisneming van 452 mans en 41 tienerseuns gelei het.

Die laagste aantal ­verkragtingsake, 76, is in Junie aangemeld en die hoogste, 115, in September.

Volgens syfers vir die tydperk van Januarie tot Junie vanjaar is vroue en meises van alle ouderdomme verkrag.

Uit die 516 klaers wat tot Junie verkragtingsake aanhangig gemaak het, is 240 sewentien jaar oud of jonger en 276 was volwasse vroue.

Nasionale statistieke vir 2017 dui aan uit die 960 verkragtings wat aangemeld is, het 524 volwasse klaers behels, terwyl 436 klagte deur ­minderjariges aanhangig gemaak is – meestal meisies.

In 2018 is 1 121 verkragtingsake ­aangemeld – 621 deur volwassenes en 500 deur minderjariges.

Kampvegters vir die bekamping van geslagsgeweld waarsku lank reeds sake wat aangemeld word is maar net die oortjies van die seekoei, en verkragting het 'n krisis in Namibië geword.

Die polisie het herhaaldelik gewaar­sku in die meerderheid sake is die ­verdagtes familie van of bekend aan die klaers en woon dikwels in ­dieselfde huis.

Die polisie het in Oktober bevestig aanranding met die doel om ernstig te beseer is die algemeenste misdaad wat aangemeld word, met verkragting in die tweede plek.



VERSKONINGS

Vyftien veroordeelde verkragters is onlangs oor die redes vir hul misdaad ondervra, en drank, dwelms, geld, moeilike kinderjare en tradisies wat vrouens onderdruk is van die faktore wat aangegee is.

Me. Nangula Kefas het dié gevallestudie oor oortreders by die Windhoek Sentrale Gevangenis gedoen en het veral op veroordeelde verkragters se ingesteldheid en patriargie in Namibië gefokus asook op oortreders se versuim om skuld te aanvaar.

Só sê me. Charlemaine Husselmann van Lifeline/Childline oor die studie se bevindings.

“Hoewel die bevindings op bydraende faktore fokus, staan die gebrek aan verantwoordelikheid onder oor­treders vir hul optrede meer as ­enigiets anders uit.”

Husselmann sê deur dwelms, alkohol, onderdrukkende tradisies en ander bydraende faktore te blameer, beklemtoon net die “dieper neiging dat mans voel hulle sou nie hierdie dade gepleeg het as dit nie vir hierdie faktore was nie”.

Sy sê dié faktore moet deeglik ondersoek word in plaas van gebruik word om verkragting te regverdig.

Volgens haar ondersteun die studie die bevinding dat verkragting hoofsaaklik 'n wapen is wat gebruik word om vroue te onderdruk en te beheer.

Volgens inligting wat die ­Namibiese Korrektiewe Dienste (NCAS) vandeesmaand verskaf het, is nagenoeg 14% van die 4 414 mans in ­Namibiese tronke agter tralies weens verkragting.

Husselmann sê rehabilitasie­programme moet fokus op die verandering van mense se opvattings, en om volle verantwoordelikheid vir dade te aanvaar.

Sy sê die kernoorsake van verkragting moet aangespreek word, in plaas van om slegs die bydraende faktore te oorweeg.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer