Verkope van Krugerrande skiet die hoogte in
Elvira Wood - Die verkope van Krugerrande in Suid-Afrika het die afgelope jaar, waarskynlik weens die onsekerheid oor die politieke en ekonomiese vooruitsigte in die land, volgens Rand Refinery die hoogte ingeskiet.
Richard Collocott, uitvoerende hoof van bemarking by Rand Refinery, sê dat hoewel Krugerrande gewoonlik eerder ’n uitvoerproduk is, dit definitief groei in plaaslike verkope ervaar het.
“Met die goudprys wat gestyg het en die rand wat verswak het teenoor die dollar, het Krugerrande se waarde die afgelope jaar aansienlik gestyg,” vertel hy.
“As ’n mens kyk na alles wat in Suid-Afrika gebeur het en nou oorsee, kan jy verstaan waarom mense na goud as ’n veilige langtermynbelegging kyk.”
Standaard-Krugerrande se prys is direk aan dié van die internasionale goudprys gekoppel.
Krugerrande se waarde kan dus wel wisselvallig wees, afhangende van wat op internasionale markte gebeur.
Data van Bloomberg wys dat die goudprys in ’n dag met US$59,30 per fynons, of met 4,5%, van US$1 263,10 Donderdagoggend 23 Junie, voor die Brexit-besluit aangekondig is, tot US$1 322,40 die dag daarna gestyg het.
“Mense moet definitief nie goud weens die prys koop nie, maar eerder as ’n bate wat deel van hul langtermynbeleggingsportefeulje vorm,” beveel hy aan.
Volgens Collocott het Rand Refinery en die SA Munt genoeg produksiekapasiteit om aan die vraag te voldoen.
“Rand Refinery en die SA Munt kan baie maklik munte produseer. Daar kan dalk soms ’n effense vertraging wees om die munte by ons verskillende verkoopsagentskappe uit te kry, maar ons sal nooit nie munte hê nie,” verseker hy.
Mary-Anne Goodman van Scoin sê hulle het ook ervaar dat daar ’n groot vraag na standaard-Krugerrande is.
“Die mark is op die oomblik redelik wisselvallig. Hoewel sommige mense verkies om weens onsekerheid nou munte te koop, wil ander weer hul munte verkoop weens die hoë waarde daarvan,” sê sy.
Oor watter munte gekoop moet word – ’n standaardmunt of een wat deel vorm van ’n beperkte uitgawe of versameling – stem Collocott, sowel as Goodman, saam dat dit van elke individu afhang en wat hulle met die aankoop wil bereik.
“Munte van beperkte uitgawes en dié wat deel vorm van versamelings is oor die algemeen duurder, maar is minder blootgestel aan die wisselvalligheid van die goudprys en die wisselkoers,” verduidelik Goodman.
Collocott waarsku ook dat hoewel Krugerrande besonder likied is en dit wêreldwyd een van die mees erkende goue munte is, daar wel regulasies oor die uitvoer van die munte na die buiteland bestaan.
“Ondanks die regulasies bly goud ’n goeie langtermynbelegging. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank waarborg dat hy Krugerrande teen die huidige goudprys sal terugkoop, dus weet jy jy sal altyd jou geld terugkry,” sê hy.
Mense wat Krugerrande wil koop, kan die South African Association of Numismatic Dealers (SAAND) kontak vir die besonderhede van munthandelaars.
- Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie