• Tuisblad
  • Afrika
  • ‘Verkeerde opvatting’ dat Oscar met opset geskiet het

‘Verkeerde opvatting’ dat Oscar met opset geskiet het

Estelle de Bruyn
Die verkeerde opvatting dat Oscar Pistorius die direkte opset gehad het om Reeva Steenkamp dood te skiet, is een van die “ernstige vyande” van dié saak.
Só het adv. Barry Roux SC gister namens Pistorius in die hooggeregshof in Pretoria in sy slotbetoë vir vonnisoplegging gesê.
Regter Thokozile Masipa moet Pistorius­ op ’n klag van moord vonnis nadat die appèlhof verlede jaar sy skuldigbevinding aan strafbare manslag ter syde gestel en dit met een van moord vervang het.
Die appèlhof het bevind Pistorius het voorsien dat hy die persoon agter die toe toiletdeur in sy huis kan dood­skiet toe hy vier skote deur die deur geskiet het.
Roux sê June en Barry Steenkamp, Reeva se ouers, se ondraaglike pyn weens die verlies van hul dogter word vererger deur die verkeerde opvattings oor die saak wat “daar buite” is.
Daar is ’n onwilligheid of onvermoë by mense om die konteks te sien waarin Pistorius om drie-uur die oggend van 14 Februarie 2013 op sy stompies was toe hy geskiet het.
As mense toelaat dat hul denkproses beïnvloed word deur opvattings, sal hulle nie aan die objektiewe feite aandag gee nie.
Roux sê die hof moenie “verdrink” in die verkeerde opvatting wanneer Pis­torius gevonnis word nie.
Die appèlhof het bevind dat Pistorius dolus eventualis opgetree het toe hy vier skote deur die toiletdeur geskiet het.
Nêrens het die verhoorhof (Masipa) of die appèlhof bevind daar was ’n stryery tussen Pistorius en Steenkamp nie, en dat sy na die toilet gehardloop het en hy haar toe gaan skiet het nie. Die indruk bestaan egter dat Pisto­rius geweet het Steenkamp is in die toilet (terwyl hy geglo het sy is in die slaapkamer en dat ’n inbreker in die toilet was).
Die appèlhof het bevind Pistorius het voorsien die persoon agter die deur kan doodgaan as hy deur die deur skiet. Die hof het bevind die identiteit van die slagoffer is nie ter sake nie.
Pistorius het nie rasioneel opgetree nie, maar dit beteken nie hy het nié geglo Steenkamp was steeds in die slaapkamer nie.
Roux sê dit is belangrik om na ’n persoon se morele blaamwaardigheid te kyk, en Pisto­rius het verlaagde morele blaamwaardigheid omdat hy nie direkte opset gehad het om moord te pleeg nie.
Wie anders as ’n inbreker sou om 03:00 in die toilet wees as Pistorius geglo het dit was nie Steenkamp nie, het Roux gevra.
Hy het ook koorsagtig alle moontlike stappe gedoen om haar lewe daarna te red. Sommige mense weier egter om Pistorius te sien as die kwesbare persoon wat om 03:00 op sy stompies was.
Hulle wil die atleet sien met die medalje om sy nek wat na die toilet hardloop om te skiet.
As Pistorius Steenkamp wou doodmaak, sou hy nie alle moontlike stappe gedoen het om haar lewe te red nie, het Roux gesê.
“Hy staan voor u op klag van moord, maar al wat hy wou doen, was om homself en vir Reeva te beskerm,” het Roux aan regter Masipa gesê.
Hy het gesê Pistorius is ’n gebroke man wat “deurlopend betaal”.
Hy het sedert Reeva se dood finansieel en sosiaal betaal. Hy het sy identiteit­ verloor. Pistorius is ook “desperaat” om met die Steenkamp-familie te praat.
Dat Pistorius tydens sy aanhouding in die tronk op die verpleegster se tafel geslaan het omdat hy nie pynpille kon kry vir sy hand wat gepyn het nie, maak hom nie ’n booswig nie, het Roux gesê.
Die risiko dat hy in die toekoms geweld sal pleeg, is laag, het Roux gesê. Die verhoor duur voort. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-07-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer