Vergete Bokke in die prentjie
Cobus Claassen
Jesse Kriel is bestem om later vandeesmaand sy internasionale loopbaan in die Springbokke se nr. 15-trui te hervat, terwyl die veteraan-vleuel Bryan Habana na verwagting by JP Pietersen sal oorvat.
Allister Coetzee, die Bokafrigter, sal minstens vier veranderings aan sy span aanbring wat op 20 Augustus in Mbombela teen Argentinië in die Rugbykampioenskap kragte meet.
’n Groep van 31 spelers vir dié toets en die daaropvolgende naweek se kragmeting teen die Poemas in Salta, Argentinië, is Saterdag aangewys.
Pietersen en heelagter Willie le Roux, wat albei in Junie in die derde toets teen Ierland in die beginspan was, is weggelaat.
Drie vergete Bokke – Johan Goosen, Juan de Jongh en Francois Hougaard – is terug in die prentjie.
Die 24-jarige Goosen het in 2014 die laaste van sy ses toetse gespeel.
Dié Vrystater was die afgelope seisoen kookwater in Frankryk en weens sy veelsydigheid behoort hy een van die plaasvervangers te wees.
Hougaard en De Jongh, wat hulle vanjaar op sewesrugby toegespits het, het self in onderskeidelik 2014 en 2012 laas toetsrugby gespeel.
Hougaard, wat deesdae vir die Worcester Warriors in Engeland speel, neem Nic Groom se plek in die groep.
Dit sal vir talle ondersteuners goeie nuus wees dat Kriel by Le Roux oorvat.
Le Roux was dié seisoen nie ’n skadu van die speler wat in 2013 met soveel belofte op die toneel verskyn het nie.
Kriel het self ook nog nie vanjaar aan die verwagtinge voldoen nie, maar het aan die einde van die Superrugby-reeks gevaarlik gelyk op heelagter vir die Bulle.
Dit bring opnuut die vraag of Kriel ’n heelagter of buitesenter is.
In die agttal keer die Cheetah Oupa Mohoje en die vaskopstut Vincent Koch terug, terwyl Coetzee nie anders kon as om die Leeus se jong haker Malcolm Marx in te sluit nie.
Julian Redelinghuys sal in die beseerde Frans Malherbe se plek die taak kry om die Bok-skrum teen die Poemas te anker.
Duane Vermeulen sal na verwagting flank toe skuif met Siya Kolisi wat die kampioenskap vanweë ’n enkelbesering misloop.
Die groot vraag is wie van Francois Louw of Jaco Kriel saam met Vermeulen en Warren Whiteley die lostrio gaan vorm.
Afgesien van Malherbe en Kolisi, kon Coenie Oosthuizen, Jan Serfontein, Pat Lambie, Handré Pollard en Cobus Reinach ook weens beserings nie oorweeg word nie.
Die Bulle-stut Trevor Nyakane sal die komende week ’n fiksheidstoets moet slaag.
Die groep kom Sondag in Johannesburg byeen, terwyl die nege Leeus, wat Saterdag in die Superrugby-eindstryd gespeel het, Woensdag aanmeld.
Die groep is:
Agterspelers: Ruan Combrinck, Damian de Allende, Juan de Jongh, Faf de Klerk, Johan Goosen, Bryan Habana, Francois Hougaard, Elton Jantjies, Jesse Kriel, Lionel Mapoe, Lwazi Mvovo, Rudy Paige, Morné Steyn.
Voorspelers: Adriaan Strauss (k), Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Jaco Kriel, Malcolm Marx, Francois Louw, Bongi Mbonambi, Oupa Mohoje, Franco Mostert, Beast Mtawarira, Sikhumbuzo Notshe, Trevor Nyakane, Julian Redelinghuys, Duane Vermeulen, Warren Whiteley.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie