Verbruikers se vertroue duik
Verbruikers se vertroue duik

Verbruikers se vertroue duik

Verbruikersvertroue het in die tweede kwartaal van 2017, ná Suid-Afrika deur die internasionale kredietgraderingsagentskappe afgradeer is, opnuut teruggeval tot van die laagste vlakke sedert 1994.
Volgens die jongste indeks van verbruikersvertroue wat deur First National Bank (FNB) en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) saamgestel word, was verbruikersvertroue in Suid-Afrika in die tweede kwartaal vanjaar so laag soos dit in 1994 laas was.

Die indeks het in die tweede kwartaal 2015 tot sy laagste vlak sedert 1994 gedaal toe politieke onrus, beurtkrag en die swak rand verbruikers moedeloos gemaak het.

“Dit is die langste tydperk wat verbruikersvertroue onder nul boer sedert die peiling in 1982 begin is – 12 kwartale agtereenvolgens,” sê Jason Muscat, ’n senior ekonomiese ontleder by FNB.

Hy sê hoewel die syfer vir die tweede kwartaal van 2017 beter is as die een van 2015, moet dit gesien word teen die agtergrond dat die syfer sedert 1994 gemiddeld op +4 indekspunte was.

In die tweede kwartaal van 2015 was dit op -15 en dit is nou op -9. Die vertroue het effens herstel in die eerste kwartaal maar toe weer teruggeval.

Muscat sê die siening oor die vooruitsig vir die ekonomie – een van die onderafdelings van die peiling – het in die tweede kwartaal egter omgekeer. Die vooruitsig vir die ekonomie het van -1 indekspunt skerp tot -22 geval.

“Die omkeer kan toegeskryf word aan die skok vir vertroue toe die staatskuld afgegradeer is ná die middernagtelike kabinetskommeling einde Maart en die nuus dat die ekonomie in ’n resessie is.”

In die eerste helfte van 2017 het minder verbruikers verwag hul huishouding se geldsake gaan binne die volgende jaar verbeter as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

“Gewoonlik gee ’n daling in inflasie huishoudings se bestedingskrag in reële terme ’n hupstoot omdat salarisse en lone tipies dan met meer as die inflasiekoers styg.

“Maar dié keer het salarisse en lone matig gestyg vergeleke met wat in die verlede gesien is. Boonop het die styging in persoonlike belasting in die tweede kwartaal enige verhoging uitgewis.”

Volgens hom het die swak stand van die ekonomie en die verwante swak finansiële vertoning van maatskappye tot die beperkte verhogings in salarisse en lone gelei. Boonop is oortyd en bonusse verminder of weggeneem.

“Onsekerheid het verder toegeneem omdat meer verbruikers bekommerd is oor hul werksekerheid en nuwe werkgeleenthede al hoe skaarser raak.”

In die verlede kon krediet van winkels en banke makliker bekom word en sou dit huishoudings in die moeilike tye deurgedra het. Die kredietkrane is egter die afgelope maande toegedraai.

“Gevolglik word huishoudings nou gedwing om hul besteding aan te pas.”

Die meeste verbruikers glo dit is nie nou ’n goeie tyd om duursame goedere te koop soos nuwe voertuie, meubels en toestelle nie.

Dié afdeling van die indeks is nou op -12 indekspunte.

“Dié lesing is nou al nege jaar of 37 kwartale negatief.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer