Venaani lei nasionale optog teen werkloosheid
Venaani lei nasionale optog teen werkloosheid

Venaani lei nasionale optog teen werkloosheid

Die DTA het die regering tot 28 Februarie 2017 gegee om afgedankte werkers in die visbedryf weer in diens te neem.
Ronelle Rademeyer
Otis Finck op Walvisbaai



Die president van die DTA, mnr. McHenry Venaani, het die eerste fase van ''n nasionale optog teen werkloosheid gister op Walvisbaai afgeskop.

Hy het sy beroep vroeër vanjaar aan die regering en visserybedryf om ''n vriendskaplike oplossing vir die dooie punt rakende stakende vissermanne wat vir langer as ''n al jaar voortsleep opnuut beklemtoon.

''n Ultimatum van 28 Februarie is aan die regering gegee om te verseker die afgedankte vissermanne word weer aangestel.

“Dit is verkeerd dat meer as 1 000 Namibiese vissermanne in die land van hul geboorte werkloos gelaat is en meer as 30 000 familielede hieronder moet ly. Ons weet visserymaatskappye het tydelike werkers aangestel wat betaal word en minder verdien as diegene wat staak. Visvangmaatskappye moet uitgebreide visvangkwotas en opvangperiodes toeken sodat hulle in staat is om afgedankte vissermanne te absorbeer sonder om tydelike werkers wat gehuur word, af te dank.”

Meer as 300 stakende vissermanne en werklose mense het saam met Venaani aan die optog na die ministerie van arbeid en maatskaplike welsyn se kantoor op Walvisbaai deelgeneem, om ''n formele versoekskrif aan die minister van arbeid, nywerheidsverhoudinge en werkskepping, mnr. Errki Nghimtina, te oorhandig. Dit is deur me. Gertrude Usiku, die hoofarbiter vir die Erongostreek en die hoof van administrasie, ontvang.

Die vissermanne het ''n beroep op die minister gedoen om ''n groot­skaalse ondersoek en oudit na die arbeidspraktyke in die visserybedryf van stapel te stuurom sodoende vas te stel of die bedryf in ooreenstemming is met billike en aanvaarbare werksomstandighede soos voorgeskryf deur die Wet op Arbeidsverhoudinge van 2007.

Hulle het voorts ''n beroep op die minister gedoen om dringend in te gryp en deel te neem aan die onderhandelinge met relevante maatskappye om te verseker dat afgedankte vissermanne weer aangestel word

In die versoekskrif word ook gevra vir die spoedige bevordering van gratis beroepsvaardigheidsopleiding en die ontwikkeling van oplossings wat die harde ekonomiese en werks­omstandighede sal takel wat vissermanne in die gesig staar.

Daar word ook voorgestel dat die Nasionale Beplanningskommissie ''n nasionale veldtog oor vaardigheidsbepaling onderneem om vas te stel watter vaardighede deur die arbeidsmark vereis word en te verseker dat onderwysstelsels in pas is met die behoeftes om te verhoed dat Namibiese skole leerlinge oplei wat nie in diens geneem kan word nie.

Venaani het aangekondig dat soortgelyke optogte ook in Lüderitz, Oshakati en Rundu beplan word.

“Die visvangbedryf het vir te lank winste gelyk aan miljoene dollar vir sy eienaars gemaak.”

Volgens Venaani is meer as 4 000 Spanjaarde direk deur die visvangbedryf in diens geneem. Die mense van Ysland en ander lande trek voordeel uit die Namibiese visseryhulpbronne, terwyl daar nie behoorlik na Namibiërs wat hulle afsloof vir die see en beter werksomstandighede eis, omgesien word nie, sê hy.

“Die regering wil nie hê die mense moet sien daar is ''n krisis nie en maak die saak as onbelangrik af. Die elite, insluitend die ministers, hul vrouens en familielede, besit visvangmaat­skappye en is net besig om hulle eie mae te beskerm.”

Hy het ook die nasionale uitsaaier skerp gekritiseer en sê dit lyk asof doelbewuste boikot, sabotering en inmenging burgers inligting ontneem, asook die geleentheid om hul stem te laat hoor.

“Dit is baie teleurstellend. Die nasionale uitsaaier oorleef op die belasting wat deur burgers betaal word, maar hulle is afwesig en het blykbaar nie ons uitnodiging ontvang om hierdie geleentheid te dek nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-10-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer