Veldbrand eis 440 skape

'n Droogtehulp-inisiatief het reeds sowat 117 ton grasbale en 50 ton lusern op plase afge­lewer wat deur die onlangse veldbrande geraak is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Minstens 440 skape tussen sewe boere het vroeër vandeesmaand tydens ‘n veldbrand in die Aranos-omgewing doodgebrand.

Die ware syfer sal na verwagting hoër wees, want van dié boere tel steeds die dooie skape.

Die brand het sowat nege boere geraak en altesaam 12 plase, of min of meer 55 000 hektaar, het in ’n kwessie van 13 tot 15 ure afgebrand.

By mnr. SP du Plessis het 176 skape doodgebrand, en ten minste 160 skape by die 80-jarige oom Hannes Coetzee. Hy werk nog deur sy skape om vas te stel of daar meer gevrek het.

Sowat 70 skape is by mnr. Arno Serfontein doodgebrand, maar ook hy tel nog dooie skape. Mnre. Jannie van der Merwe het ’n verlies van 15 skape gehad, Koos Simmington 13, Oujan Bredenhann 5 en Frans Maartens 1.

“Hierdie brand was vir ons almal iets vreesliks,” het SP se vrou, me. Mien du Plessis, gister aan Republikein gesê.

“Daar was geen keer aan die brand nie, dit was hoër as ‘n huis se dak. Die vuur het op ‘n plek oor die breë Langbeenpad gespring en is deur ‘n baie sterk wind aangedryf,” het sy gesê.

“Al die boere sukkel nog dat hul dieregetalle ná die droogte moet optel, toe kom die vreeslike brand.”

Du Plessis sê teen huidige markpryse van sowat N$2 500 per skaap, kan hul persoonlike verlies teen sowat N$440 000 bereken word.

“Hierdie is net die skape wat ons al op afgekom het. Soos ons gery het, het ons karkasse gekry of van hulle wat nog rondstaan, maar só erg verbrand is dat ons hulle kele moes afsny,” het sy gesê.

Du Plessis sê sy wil opreg dankie sê aan al die mense wat kom help het om die brand te blus, asook aan Leonardville se boere wat die 1 400 grasbale geskenk en aan Namib Breweries en Namibië Boere Droogtehulp wat dit afgelewer het.

“Hier was seker 70 voertuie van mense wat kom help vuurslaan het, sommige van Koës, wat meer as 200 km ver is. Dit is ‘n riem onder die hart om te sien soveel mense gee om,” het sy gesê.

HULP

Intussen het Namibië Boere Droogtehulp reeds gehelp met sowat 117 ton se grasbale en 50 ton se lusern op plase wat deur die onlangse veldbrande geraak is.

Behalwe vir voer en vervoer, vra hulle ook vir skenkings van bokke, skape of ander vee, sodat dit aan boere gegee kan word wie se diere in die brande gevrek het.

Die droogtehulp-inisiatief het die afgelope naweek nog twee vragte grasbale na Aranos geneem, en ‘n derde vrag na die Khomas Hochland.

“Voor die groot brande in die Dordabis-gebied, is daar ook twee vragte lusern daarheen geneem,” het me. Henriette Le Grange aan Republikein gesê.

Sy is die dryfkrag agter die droogtehulp-inisiatief wat boere ook nou tydens uitgebreide brande bystaan.

Sy het gesê vir die lusernvragte is daar ook N$19 000 se geld geskenk, terwyl N$40 000 uit die droogtehulpfonds se bankrekening hiertoe bygedra is.

Mnr. Johan Kirsten, ‘n lusernboer van Mariental het bale ter waarde van altesaam N$32 000 aan die fonds geskenk om aan brandgeteisterde plase te lewer. Sy het gesê hy het vir ‘n eerste vrag 402 bale gegee en daarna nog 200 lusernbale – gratis.

“Altesaam ses vragte gras is deur Leonardville se boere geskenk, wat ook in die droogtegeteisterde Karasburg en Keetmanshoop gelewer is. Daarbenewens het CIC en Namibia Breweries die vervoer voorsien. Ek weet nie hoe ons genoeg dankie vir hulle kan sê nie, dit is ‘n groot bydrae,” het sy gesê.

Sy sê die fonds het intussen ook ‘n bydrae van N$30 000 aan mnr. Wimpie Schoeman van Boplaas in die Uhlenhorst-omgewing gemaak, wie se huis vroeër vandeesmaand tydens ‘n veldbrand afgebrand het.

Mense wat die fonds wil ondersteun, kan vir Le Grange by 081 124 9670 of mnr. René Botes by 081 122 0356 skakel.
[email protected]

FOTO
Die Aranos-brand het sowat nege boere geraak en altesaam 12 plase, of min of meer 55 000 ha, het in ‘n kwessie van dertien tot vyftien ure afgebrand. FOTO'S VERSKAF

Kommentaar

Republikein 2024-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Deportivo Alaves 2 vs 2 Girona SerieA: Frosinone 0 vs 5 Inter Milan #N/A Currency: GBP to NAD 23 | EUR to NAD 19.82 | CNY to NAD 2.55 | USD to NAD 18.41 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.68 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.56 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 134.06 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.6 | USD to EGP 47.35 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1439.8 | USD to ZAR 18.44 | USD to ZMW 26.75 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 78464.25 Up +1.19% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1754.6 Up +1.22% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13527.01 Up +0.36% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26003.16 Up +0.05% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 360.52/OZ UP +0.59% | Copper US$ 4.62/lb UP +1.13% | Zinc US$ 2 961.00/T DOWN -0.06% | Brent Crude Oil US$ 83.21/BBP DOWN -0.0171 | Platinum US$ 995.62/OZ UP +1.05% #N/A