Vegtende Eagles geneutraliseer
Afghanistan se hoër gerekende krieketspan het gister die Namibiese opmars gestuit.
Andrew Poolman – Die Namibiese Eagles se seggenskap op die verdere verwikkelinge in die Super-12-fase van die T20 Wêreldbeker het moontlik tot ’n einde gekom met gister se nederlaag met 62 lopies teen Afghanistan in Abu Dhabi.
Met oorblywende wedstryde teen drie bulspanne van wêreldkrieket – die onoorwonne groepvoorloper Pakistan môre, Nieu-Seeland Vrydag en die heel laaste groepwedstryd voor die semifinale Maandag teen Indië – sal afrigter Pierre de Bruyn en sy manne nietemin vasberade wees om te hergroepeer en hul opmars teen alle verwagtinge in op ’n hoë noot af te sluit.
Nadat hulle in sy openingswedstryd deur ’n gedugte Sri Lankaanse boulaanval weggeblaas is, het die Namibiërs ’n briljante toernooi beleef met opeenvolgende oorwinnings teen Nederland, Ierland en Skotland – om in hul debuutverskyning by die T20 Wêreldbeker die Super-12-fase te haal.
Afghanistan het gister gewys hoekom hy ’n onoorwonne rekord teen Namibië handhaaf en as een van die gevaarlike buiteperde in die T20 Wêreldbeker beskou word.
Die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus, wat ná die toernooi ’n operasie aan ’n gebreekte vinger sal moet ondergaan, het ná gister se uitslag gesê: “Ons het geweet Afghanistan sal ’n hoër vlak vereis teenoor wat ons tot dusver in die toernooi teëgekom het. Afghanistan se kolftotaal (160/5) het bietjie buite ons beheer geraak en ’n paar vennootskappe het die teiken nog verder gerek.
“Om 161 te jaag, sal jy goed moet kolf. Ek dink nie die kolfblad het deur die dag verander nie. Dit was eerder die gehalte van hul boulers en hul krieket in die algemeen wat die deurslag gegee het – selfs sonder Mujeeb Ur Rahman (hul beseerde draaibouler wat gesamentlik ses paaltjies teen Skotland en Pakistan geneem het).
“Ons sal hierdie uitslag as ’n les vir die toekoms neem.”
Erasmus se vingerbesering, wat hy tydens ’n opwarmwedstryd voor die toernooi opgedoen het, het in ’n media-onderhoud met die Eagles se hulpafrigter, die voormalige Protea Albie Morkel, ter sprake gekom.
“Gerhard se besering in ’n opwarmwedstryd was vir ons ’n groot slag. Die aanvanklike verslag van die spesialis was dat hy sou moes huis toe gaan om geopereer te word. Hy sal steeds geopereer word, maar hy het besluit om aan te bly en ons mediese personeel bestuur sy vinger sover ons kan.
“Sover het sy besluit rêrig vrugte afgewerp. Hy is ’n inspirasie as kaptein en hy het ’n paar deurslaggewende vertonings gelewer. Hopelik kan sy vinger vir nog ’n paar wedstryde hou; daarna gaan hy waarskynlik in Windhoek geopereer word en sal uit wees vir sy hersteltyd,” het Morkel aan Cricinfo gesê.
Afghanistan het gister die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Hul bekende benadering om maksimaal aan te val tydens die kragspel, het hulle op 50/0 ná die eerste ses boulbeurte geplaas.
Hazratullah Zazai (33 van 27 balle) en die stewig geboude paaltjiewagter Mohammad Shahzad (45 van 33 balle) se 53-vennootskap is wel deur JJ Smit (1/22 in 3 bb) verbreek, wat eersgenoemde deur Michael van Lingen laat uitvang het.
’n Goeie veldplasing het bygedra dat Bernard Scholtz vir Shahzad van Ruben Trumpelmann (2/34) se boulwerk uitgevang het. Nicol Loftie-Eaton se stadiger aflewerings is ook met vrug tot die boulaanval toegevoeg, toe hy met 2/21 in vier boulbeurte net 5.25 per boulbeurt afgestaan het.
Die Afghaanse kolwers het hul visier op Namibië se voorste paaltjienemer in die toernooi, Jan Frylinck, ingestel wat vir 0/34 in drie boulbeurte deurgeloop het. Die Afghane het in die laaste vyf boulbeurte 50 lopies bygevoeg.
Die druk op die Eagles om 161 te jaag, het vroeg al toegeneem toe Craig Williams in die eerste boulbeurt vir net een lopie uitgehaal is. Nicol Loftie-Eaton (14 van 16 balle) het ingestap om hom by Michael van Lingen (11 van 8 balle) te voeg, maar nadat elkeen een ses geslaan het, is hulle met die span se telling op 16 en 29 uitgehaal.
Gerhard Erasmus (12 van 14 balle, 1x4 1x6) het hard probeer totdat hy deur ’n dodelike streepbal op sy tone deur Hamid Hassan skoongeboul is.
Die ervare David Wiese het wel op sy goeie toernooi voortgebou met ’n vasberade 26 van 30 balle (2x4), maar Zane Green (1), JJ Smit (0), Jan Frylinck (6) en Pikky ya France (3) kon nie daarin slaag om die Afghaanse boulvernuf te hanteer en tot betekenisvolle vennootskappe by te dra nie.
Ten laaste het kolwer nommer tien Ruben Trumpelmann (12 nie uit nie van nege balle) twee viere geslaan, maar dit was ook vergeefs en die kolfbeurt het op 98/9 geëindig.
Naveen-ul-Haq se afwisselings van draaiballe het hom 3/26 en die toekenning as speler van die wedstryd besorg, terwyl Hamid Hassan selfs meer dodelik was met 3/9 in vier boulbeurte om te verhinder dat Namibië enigsins binne bereik van ’n reusagtige opskudding kon kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie