Veesektor spring in teen bek-en-klou
Veesektor spring in teen bek-en-klou

Veesektor spring in teen bek-en-klou

Tydens ’n noodvergadering met die lewendehawe- en vleisbedryf, het die DVS gesê steun in die stryd is tans “broodnodig”.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

Verskeie belangegroepe uit die Namibiese veesektor gaan steun aan die direktoraat van veeartsenydienste (DVS) verleen om die uitbreking van bek-en-klouseer in die Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek te bestry.

Dit omdat beperkte fondse die DVS se vermoë belemmer om die nodige maatreëls vir die bestryding van die siekte in te stel.

Dr. Albertina Shilongo, die DVS se hoofveeartsenybeampte, het tydens ’n noodvergadering Maandag met belangegroepe in die lewendehawe- en vleisbedryf glo gesê steun hierin is “broodnodig”.

Dienooreenkomstig beplan talle belangegroepe om talle benodighede teen vandag aan die DVS te oorhandig.

Tydens Maandag se vergadering is gesê die topprioriteite is onder meer die opstel van padblokkades, die beperking van vee se bewegings, entstowwe teen die siekte, toesighouding, bewusmaking asook die onderhouding van die veterinêre kordonheining.

Belangegroepe het toe ’n dag daarna vergader en besluit hulle sal steun verleen in die vorm van rantsoene aan 200 personeellede, die verkryging van entstowwe, toerusting vir monitering en padblokkades, die herstel, monitor en onderhoudswerk van die veterinêre kordonheining, hulp met die diens van voertuie asook met vervoer van goedere tussen Windhoek en Rundu.

NOG UITBREKINGS

Shilongo het in ’n telefoniese onderhoud aan Republikein bevestig dat die uitbreking van bek-en-klouseer steeds tot die Kavango-Oos- en -Wesstreek beperk is, maar die siekte is intussen by nog twee nedersettings in die Kapako-kiesafdeling gediagnoseer.

Dit was reeds teen 28 Oktober bekend dat die siekte onder vee by die Hoha-nedersetting in die Ndiyona-kiesafdeling, die Shighuru-nedersetting in die Mashare-kiesafdeling asook die Sivara-nedersetting in die Kapako-kiesafdeling uitgebreek het.

“Ons vermoed die bron van die uitbreking is Angola, want hul veeartsenyowerhede het aan ons bevestig dat bek-en-klouseer ook gediagnoseer is onder vee aan die oorkant van die rivier, waar die Namibiese beeste daagliks gaan wei,” het Shilongo verduidelik.

Sy sê beeste swem maklik deur die huidige vlak rivierwater om aan die ander kant – in Angola se Cuando Cubango-provinsie – te gaan wei. Sy sê nog ’n baie waarskynlike bron van besmetting is die wilde buffels wat in die gebied voorkom en wat dikwels draers van die virus is.

Bek-en-klouseer is ook bevestig in Botswana, teenaan die grens met die Mahangupark aan die Namibiese kant.

Shilongo het bevestig dat daar tans met Angolese owerhede saamgewerk word om die siekte te bekamp. “Ons het ’n virtuele vergadering met die Angolese owerhede gehad. Hulle het reeds beperkings op die beweging van vee ingestel en gaan ook inentingsveldtogte van stapel stuur,” het sy gesê.

Shilongo het boere en die publiek aangemoedig om hul samewerking te gee om die siekte te bestry.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer