Veediewe skiet ingevoerde stoetbul

’n Bonsmara-stoetbul van N$120 000 het in die slag gebly toe veediewe op ’n plaas naby die Gamsberg toegeslaan het.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Twee mans van ’n bende van drie wat glo in die nagtelike ure Dinsdagoggend ’n

stoetbul en drie koeie op die plaas Hohenheim, naby die Gamsberg, doodgeskiet het, is gister borgtog geweier.

Mnre. Tony Plaatjiez en Desmond Am!gabeb het vlugtig in die landdroshof op Rehoboth verskyn nadat hulle Dinsdag tydens ’n soektog deur die polisie, boere en plaaswerkers van die omgewing aangekeer is.

Mnr. Campbell Conan, wat die plaas Göllschau bestuur, sê mnr. Bernhardt Schurtz van Hohenheim se plaaswerkers het halfvier Dinsdagoggend skote gehoor.

Ná oproepe om die voorval aan lede van Gamsberg-buurtwag te rapporteer, was ’n buurman van Schurtz, mnr. Joachim Cranz, eerste op die toneel.

Hy het op ’n gekweste bees afgekom, en daarna die slagplek gevind waar die nagtelike diewe glo drie koeie en ’n Bonsmara-stoetbul doodgeskiet het. Schurtz het dié bul verlede jaar vir R120 000 in Suid-Afrika gekoop.

Kort ná Cranz se aankoms het ’n bakkie sonder ligte nader gery gekom. Hy kon die registrasienommer lees en het dit aan ’n polisiereservis in Windhoek deurgegee.

Die polisie op Nauchas is ook in kennis gestel, wat dadelik die pad na die plaas gevat het.

Toe die man in die bakkie vir Cranz gewaar, het hy omgedraai en in die rigting van Windhoek weggejaag.

’n Wilde jaagtog het gevolg en Conan is laat weet om die vermeende veedief in te wag. Toe hy Conan se voertuig gewaar, het hy glo stilgehou, die geweer in die veld weggegooi en die hasepad gekies.

Die man, wat na wat verneem word plakkies aangehad het, het daarvan ontslae geraak en kaalvoet verder gevlug.

Volgens Conan is lede van die polisie se taakmag saam met die polisiehelikopter ontbied waar hulle in die onherbergsame Gamsberg-gebied na die voortvlugtende man gesoek het. Teen druktyd gister was hy nog op vrye voet.

Plaatjiez en Am!gabeb, wat glo die slagwerk in die veld moes doen, is later Dinsdag aangekeer, waarna hulle gister voor die hof gebring is.

Conan was gister vol lof vir die plaaswerkers op Göllschau, mnre. Johnny en Dennis Nowaseb en Salmon Goliath, se bystand tydens die soektog en sê hulle het gehelp om dié twee mans vas te trek.

Intussen blyk dit die vermeende veediewe se bakkie, waarop die polisie beslag gelê het, word ook met ’n beesslagtery vroeër op die plaas Prospect verbind. Dit is ook in dié omgewing.

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer