Veeartsenyskool sorg vir  polisiehonde
Veeartsenyskool sorg vir polisiehonde

Veeartsenyskool sorg vir polisiehonde

ELIZABETH JOSEPH
Elizabeth Joseph



Die Namibiese polisie en die Universiteit van Namibië (Unam) se veeartsenyskool het Woensdag 'n ooreenkoms in die hoofstad onder­teken waarvolgens veeart­se­nystudente voortaan na polisiehonde se gesondheid sal omsien.

Lt.genl. Sebastian Ndeitunga, Namibië se polisiehoof, het gesê die ooreenkoms kon nie op 'n beter tyd kom nie, veral ná twee polisiehonde in die Noorde dood is.

“Daar moet op 'n meer permanente basis na alle diere in die polisie omgesien word,” het hy gesê.

“Die veeartsenystudente gaan in April volgende jaar hul gradeplegtigheid hê, maar ons het iemand nodig om die polisie voltyds en nie net per geleentheid nie te help.”

Unam se visekanselier, prof. Kenneth Matengu, het gesê: “Ons wil seker maak die studente is ten volle met die nodige ­vaardighede en ervaring toegerus sodat ons hulle in gebiede kan uitplaas waar hulp benodig word.”

Hy sê die studente gaan elke jaar deur 'n akkreditasieproses en “ek is trots om te kan sê die skool en sy standaarde verbeter elke jaar en is van internasionale standaard”.

Die universiteit het planne om hul eie dierekliniek te bou en fase 1 van dié projek sal teen die einde van 2020 voltooi wees.

Ndeitunga sê die polisie hoop om hul eie hondeteelskool op die been te bring.

“Die honde word tans gekoop of deur mense geskenk. Met die ­finansiële beperkinge wat die land tans beleef, is daar geen ­begroting vir hierdie K9-honde nie,” het Ndeitunga gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer