• Tuisblad
  • Sake
  • VBS Mutual Bank: Verslag toon plundering, bedrog
VBS Mutual Bank: Verslag toon plundering, bedrog
VBS Mutual Bank: Verslag toon plundering, bedrog

VBS Mutual Bank: Verslag toon plundering, bedrog

Van die besonderhede van die bedrog en diefstal is reeds vantevore bekend gemaak, maar die verslag stippel uit hoe fiktiewe deposito's gemaak is.
Hanlie Stadler - VBS Mutual Bank was al op 31 Maart 2017 “hopeloos insolvent” – sy laste was R180 miljoen meer as sy bates.

“Teen die tyd dat die bank (op 11 Maart 2018) eindelik in kuratele geplaas is, was die posisie eksponensieel erger.”

Dis een van die bevindings in adv. Terry Motau SC se verslag na die probleme by VBS Mutual Bank wat Woensdag openbaar gemaak is. Motau het die span gelei wat in opdrag van die Reserwebank 'n forensiese ondersoek na VBS gedoen het.

Motau se verslag het die titel “The Great Bank Heist”, en die verslag laat géén twyfel nie dat doelbewuste, sistematiese bedrog van nagenoeg R2 miljard gepleeg is.

Motau se dramatiese inleiding tot die verslag gaan oor die rooftog van R400 000 by Standard Bank in Krugersdorp in April 1977, toe 'n groep rowers onder leiding van ene Mister Nightingale 'n tonnel van 21 m gegrawe het wat in die bank se kluis geëindig het.

“Hulle het verdwyn en niemand is ooit in hegtenis geneem nie. Ek het die afgelope vyf maande die jammerlike sake van VBS Mutual Bank ondersoek. My verslag sal onthul dat die boewe van die rooftog by VBS met byna R2 miljard weggekom het. En hulle het beslis nie soveel harde werk en moeite ingesit as Mister Nightingale en sy span nie. Ek vertrou dat iemand in dié geval in hegtenis geneem sal word.”

Motau sê daar was “­grootskeepse plundering” by VBS. Die bank het 'n doelbewuste veldtog van stapel gestuur om groot deposito's van munisipaliteite te kry en later ook probeer om deposito's van staats­ondernemings soos die Passasierspooragentskap te kry, deur “kommissie” – dikwels suiwer omkoopgeld – te betaal om mense te beïnvloed om geld by die bank te belê.



BEDROG EN DIEFSTAL

Van die besonderhede van die bedrog en diefstal is reeds vantevore bekend gemaak, maar die verslag stippel uit hoe fiktiewe deposito's gemaak is vir Vele Investments, VBS se grootste aandeelhouer, en hoe die geld toe deur mense betrokke by Vele op luukse aankope geblaas is.

Die verslag toon ook hoe VBS maand ná maand die registrateur van banke van die Reserwebank – die voorganger van die Omsigtigheidsowerheid – met vervalste state bedrieg het.

Motau en sy span het onderhoude met 30 mense gevoer en het ­klopjagte uitgeoefen op VBS se hoofkantoor in Makhado en sy tak in Sandton en ­Thohoyandou, sowel as op Vele ­Investments se hoofkantoor in Sandton.

Die verslag wys die vinger na top­bestuurders by VBS en Vele. Van hulle het gebieg oor hoe hulle VBS se ­stelsels gemanipuleer het.

Ingevolge die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor mag niemand se getuienis in so 'n forensiese ondersoek teen hom gebruik word nie.

Die verslag is wel aan vervolgings­owerhede oorhandig, wat dit as grondslag vir hul eie ondersoek kan gebruik in die hoop dat mense strafregtelik vervolg gaan word.

VBS is op 11 Maart in kuratele geplaas toe die bank “kontantvloeiprobleme” ontwikkel het.

Dit was binne weke duidelik dat bedrog betrokke was.

Heelwat ­inligting het al na vore gekom in likwidasie-aansoeke wat die kurator, Anoosh Rooplal van SizweNtsalubaGobodo, teen individue en Vele self gebring het.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A