Vasbyt teen die kilo's verpas 'n melktert op 'n Maandag
Vasbyt teen die kilo's verpas 'n melktert op 'n Maandag

Vasbyt teen die kilo's verpas 'n melktert op 'n Maandag

Gerine Hoff
Verneem toe Maandagaand laat op die kassie dit was Nasionale Melktertdag. Dit nou sonder dat daar dié dag so 'n drilstukkie op 'n vurk se punt of in 'n lepel se holte gelê het voordat dit sagkens die kies gesmeer het.

Waar die ou met sy stuitigheid nie die einde van sy verdoemende verkondiging kan kry nie.

Dié dag was, maar is nou verby. Melktert is een van die suidlande van Afrika se tradisionele kossoorte, sê hy. Wat hy byskep, is koesisters, pannekoek en biltong.

Wou nog vra wat van vetkoek met stroop, toe impulsief opgetree word.

Is dit? So vra ek myselwers wel af met die opstaanslag uit 'n diep stoel om die TV af te skakel.

Wonder wel wie hou dalk vanaand 'n kerkbasaar? Het mos die tyding gekry.

Ganoeg is ganoeg!

Ou vrind, wyle Dok Jan, het altyd die storie vertel en geskryf van die Windhoeker wat vir sy familie en vriende in Johannesburg gaan kuier het. Hulle verseker hom hy is so welkom soos 'n reënwolk oor die Omaheke, maar net een ding moet hy onthou: hy moet een van ta' Meraai se melkterte gaan koop en 'n sagte plekkie in sy kar daarvoor maak. Niemand bak glo 'n melktert soos Meraai nie. Dis die Windhoeker se paspoort vir 'n heldeontvangs in die vreemde.

Toe kom daar naby sy bestemming 'n smês en val van sy bagasie die melktert so plat soos die pan van versterkte silwer waarin dit berei was.

Wat nou? Doer by 'n padkafeetjie hou hy stil en verneem na melktert. Hulle het. Hy sê bring hom en stoot die daalders.

By sy bestemming verneem sy blye genote na Meraai se melktert. Hy sê hy het hom en per geluk trek hy hom uit die kardoes waarop staan Potch se Bakkery.

Met sy instap sit die mense die tafel toe. Almal smul, met een wat darem die woord voer: “Niemand kan 'n melktert bak soos ta' Meraai nie!”

Uit studentedae is daar ook herinnering aan 'n melktert. 'n Kamermaat het maer dae gehad toe 'n vertraagde tjekkie met sy sakgeld uiteindelik opgedaag het. Op Woensdae had hy nie middagklasse nie en gaan doen hy toe sy inkopies. Om hom te beloon vir sy vasbyt, koop hy toe ook 'n melktert.

Met sy inkomslag by die ­kamerdeur met al sy pakkies verloor hy 'n ­drabalans en om te keer dat sy tert val, plak hy dit met die melkkant teen die muur net neffens die skakelaar by die deur. Afkrap het 'n bietjie gehelp, maar die soet en taai kol het bly steek. Elke keer wanneer daarna dorp toe gegaan moes word, het die kol die notisietjie gebly dat melktert ook gekoop moet word. Later het die kol sommer 'n ­kennisgewingbord geword met al die vergeet-my-niegoedjies wat daar voor die uitstap opgeplak was.

'n Verkeerde opvatting is dat melktert 'n tradisionele lekkerny is wat op Afrika-bodem ontwikkel het. Toe Van Riebeeck hier aanland, was soettande lankal in oorsese kombuise besig.

Tweeduisend jaar gelede het monnike en nonne glo in hul verpligte vastye op ­melktertsoorte gekonsentreer in die plek van vleis, vis, melk en eiers.

Skielik klink 'n vastyd nie so sleg nie.

Daar is ook melkterte en melkterte. Party baksters sê dit moet 'n skilferkors dra, ander sê dit moet 'n broskors wees. Die Franse maak amper 'n doektert met 'n korsie van bo en 'n korsie van onder.

Daar's blykbaar ook 'n vloeibare melktert. Nou die aand skink oom Fessie vir sy Koekie so 'n enetjie. Dis kondensmelk met 'n sterk geursel uit die jenewerbottel. Hy noem dit “shooters”. Die enetjie word toe twee en die twee uiteindelik die ganse bottel. Die volgende oggend voel Koekie asof die shooter se koeël haar tussen die oë getref het. Haar koppie is seer met die ergste pyn tussen haar oë soos die wat mansmense glo kry wanneer hulle onderbroeke te klein is.

Wie stoot so?

Kommentaar

Republikein 2025-08-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer