Vang vis vir 'net' N$50
Ná groot omstredenheid oor die skerp verhoging in die prys van visvangpermitte, sê die ministerie 'n dagpermit kan wel uitgeneem word.
Estelle de Bruyn
Goeie nuus vir hengelaars wat net af en toe die lyne gaan natmaak, is dat hulle nie 'n maandpermit van N$1 500 hoef uit te neem nie, maar bloot N$50 per dag hoef te betaal.
Die permanente sekretaris van visserye en mariene hulpbronne, dr. Moses Maurihungirire, het gister 'n nuuskonferensie gehou om antwoorde te gee nadat 'n openbare storm oor die nuwe tariewe uitgebreek het. Die tariewe is stil-stil in die Staatskoerant van 26 Junie afgekondig.
Hy sê die ou permit van N$14 per maand is in 2001 ingestel. Die tarief is die afgelope 16 jaar nie aangepas nie en gevolglik moes die ministerie die bestuur van hengel vir ontspanningsdoeleindes subsidieer. Hy sê die uitreiking van permitte, verifiëring van permitte op die strande, die insameling van data en padblokkades om daaglike vangste te kontroleer, kos die ministerie nagenoeg N$400 000 per maand. Dit kon nie deur die inkomste uit die ou permitte verhaal word nie en gevolglik was dit noodsaaklik om die tariewe aan te pas.
Maurihungirire het ook diegene wat in besit van langtermynpermitte is, die versekering gegee dat dit tot die vervaldatum geldig is en hulle hoef nie nou nuwe permitte aan te skaf nie.
Die nuwe permittarief is ook 'n eenmalige betaling en die bykomende koste per kilogram vir die verskillende spesies is nie van toepassing op hengelaars wat vir ontspanning visvang nie, slegs vir die visserybedryf.
Hy het diegene wat vis vervoer, daarop gewys dat hulle in besit van 'n geldige permit moet wees. Indien hulle die vis gekoop het, sal hulle bewys van betaling met 'n kwitansie moet lewer.
Die kennisgewing in die Staatskoerant van 26 Junie vanjaar geld ook net vir hengel by die see en nie vir binnelandse hengel nie.
In dieselfde uitgawe word dit ook duidelik gemaak dat bestaansvissermanne nie die permitte nodig het nie, mits hulle by die ministerie geregistreer is of lede van die Hanganeni Vakman Vissery-vereniging (HAFA) is. Hulle kan gratis permitte bekom tot tyd en wyl nuwe riglyne vir hierdie kategorie vissermanne in die Staatskoerant gepubliseer word.
Hengelaars wat vir ontspanning visvang, mag 10 visse per dag vang waarvan die waarde N$1 000 of meer mag wees, sê Maurihungirire.
“Gegewe die vlakke van lisensietariewe vir hengel vir ontspanningsdoeleindes in buurstate, en die waarde van die vis wat daagliks gevang kan word, is N$50 per dag nie buitensporig nie,” het hy gesê. Hy het ook daarop gewys dat die ou maandtarief van N$14 op 46 sent per dag neergekom het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie