Van skaapwagter tot wenboer met karakoel
Op 108 jaar is oupa Thomas nog elke dag op sy plaas om na sy boerdery te kyk.
Tanja Bause
Oupa Thomas Mutota het op 4 Februarie sy 108ste verjaarsdag op sy plaas Aldemut duskant Gibeon gevier. Oupa Thomas is ’n man wat homself van ’n skaapwagter opgewerk het tot een van die suksesvolle karakoelboere van die Suide.
Selfs vandag nog loop hy op sy plaas rond en kyk dat alles reg verloop.
Oupa is soos hy sê duskant Ongwediva in die noorde van die land gebore en het daar grootgeword.
“Ek wou aan my ouers bewys dat ek iets vir myself kan doen. Ek het in 1938 in die Maltahöhe-distrik aangekom en by mnr. Koos van der Merwe begin werk as ’n skaap- en bokoppasser.”
“Van hom het ek geleer hoe om die diere op te pas en te versorg. Ek het skaaplammers geslag en alles wat ek kon van hom geleer.”
Die jare as skaapwagter was nie maklik nie en oupa het dikwels maande alleen met sy diere in die veld gebly. Hy onthou toe hy in 1947 saam met die skape anderkant Schlip was.
“Ek en die skape is soontoe weens die droogte. Daar was geen skuiling vir my nie en ek het klippe gepak om die wind te keer. Daar was geen pondokke nie; as jy skuiling wou hê, het jy plan gemaak en dit gebou. Ek onthou as die weerlig geklap het, kon ek die skape se oë sien en ek het geweet hulle lê nog in die kraal wat ek gebou het en is oukei. My baas het my vertrou, want hy het geweet as hy my weer sien, is daar meer skape as waarmee hy my gelos het.
“Wanneer die ooie lam, dan sorg ek vir die baba en maak seker hulle lewe.”
Dit was op ’n plaas naby Maltahöhe waar oupa sy eerste vrou, Rachel, ontmoet het. Uit die huwelik is elf kinders gebore. Rachel het die kok en huishulp op die Van der Merwes se plaas geword.
“My vrou se geld is gebruik vir die kinders se skool en goed wat hulle nodig gehad het en ek het al my geld bank toe gevat sodat ons eendag geld het om ’n lewe te kan maak.”
Oupa Thomas was in die omgewing bekend as ’n bekwame jakkalsjagter en talle boere het van sy diens gebruik gemaak.
“Ek het honde gehad en wanneer daar ’n probleemjakkals was, is ek soontoe met my honde. Ek het met hulle in die veld geloop en die spoor gesoek, dan het ek vir hulle gesê ‘soek hom’ en die honde is agterna. Ek het gaan sit en dis nie lank nie, dan hoor ek die honde blaf, dan skree ek ‘vat hom, moet hom nie los nie!’
“Dan vang die hond hom. Ek het nie geld vir die vang van die jakkalse gevra nie; ek het altyd gesê gee my lewendige diere. Dit is hoe ek ses top karakoelooie en een baie goeie ram van ’n boer af gekry het.”
Koos van der Merwe is in 1952 oorlede en sy drie kinders was nog baie klein en op skool.
“Sy vrou was verlore en ek kon nie vir haar en die kinders los nie en moes by hulle bly. Ek moes haar hand vat, maar ek kon nie die besluit net self neem nie, want my pa het nog gelewe en ek moes hom vra. My pa het gesê ‘my kind, jy moet haar deur die donker help. Jy hoef nie huis toe te kom nie, bly en help die vrou en kinders.’ Ek het gebly totdat sy self ook oorlede is.”
FAMILIEPLAAS
Terwyl oupa vir Van der Merwe gewerk het, het hy ook al begin om ’n paar skape bymekaar te maak. Nadat hy klaar op die plaas gewerk het, het hy huis toe gegaan en na sy eie skape en bokke gaan kyk en hulle versorg.
In 1964 het oupa deur die destydse Odendaal Plan ’n plaas gekry.
“Ou Kaptein Witbooi het vir my gesê, ‘daar is ook ’n staanplek vir jou’. Maar ek sal ’n plek gaan soek waar ek ’n plaas kan maak. Toe ek die plek gevind het waar ek ’n tuiste kon maak, het Witbooi vir my gesê ek mag daar gaan bly, maar ek mag nie in ’n sinkhuis bly nie en moet ’n steenhuis bou.
“Ek en my familie het eers in ’n tweeslaapkamer sinkhuis gewoon terwyl ek begin het om die huis te bou. Vandag staan daar ’n 12-vertrek steenhuis op die Mutota-familieplaas.”
Oupa Thomas het die plaas omhein, ’n boorgat laat slaan, krag aangelê en spoeltoilette in die huis aangebring – dit alles betaal uit die geld wat hy gespaar het.
“Ek het my plaas opgebou en mense kan dit nie glo nie, want ek was ’n skaapwagter en het nie baie verdien nie, maar ek het gewerk vir alles wat ek het.”
Die plaas is sowat 70 kilometer buite Gibeon op die Helmeringhausen-pad geleë.
Oupa Thomas het talle pryse tydens boeredae met sy karakoelskape en -velle gewen. In 2001 het hy die eerste prys vir ’n Grootkampioen-skaap gekry.
“Ek is ook bo op die kalk as die beste boer by ’n boeredag aangewys; so ook tydens ’n boeredag op Berseba. Ek was ’n nommer een boer.’
Hy het ook twee keer die bewaringstoekenning van die Namibiese Landbou-unie vir die Gibeon-omgewing gewen.
Oupa Thomas het ook baie vir die boeregemeenskap van Gibeon gedoen. So het hy gesorg dat ’n kantoor oopgemaak word waar boere hul permitte vir die verkoop van skape en bokke op Gibeon kan uitneem.
“Ons mense het nie almal iets in die sak sodat ons ’n saamrygeleentheid Mariental toe kan kry vir die permitte sodat ons op ’n vendusie kan koop en verkoop nie.
“Ek was gelukkig met alles wat ek begin het. Ek het geen donker pad gehad nie, want die Here het altyd ’n lig geskyn sodat ek kon sien waar ek trap. My ouers wat my grootgemaak het asook my tweede ouers wat ek in die Suide gekry het, het my gelei. Hulle het lig gemaak sodat ek die pad kon sien en hom loop.
“Ek is baie trots op myself ná alles wat ek reggekry het en dat ek soos ek hier sit nie een sent vir niemand skuld nie. Ek is ook baie trots op my familie; ek sou nie wees waar ek nou is sonder hulle nie.”
Hoewel hy steeds boer, het die droogte van die afgelope jare hom ook getref en hy moes sy boerdery verminder. Hy het tans nog net sowat 100 skape oor.
Oupa Thomas het ná die afsterwe van sy eerste vrou met Regina in die huwelik getree waaruit nog twee kinders gebore is.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie