Van ruwe eksplorasie tot blink juweelstukke

Die verspreiding en verkoop van Namibiese diamante word streng gereguleer.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Volgens kenners word die Namibiese diamantbedryf streng gereguleer om kriminele aktiwiteit te verhoed en die bedryf se inkomste word grootliks terug in die land geploeg.

Namib Desert Diamonds (NAMDIA) het op Donderdag 24 September ’n aanlyn paneelbespreking aangebied waartydens die land se diamantbedryf bespreek is.

Op die paneel was onder andere NAMDIA se uitvoerende hoof, mnr. Kennedy Hamutenya, die uitvoerende hoof van Namibia Diamond Trading Company (NDTC), mnr. Brent Eiseb, en die bestuurder van bemarking en verkope van NAMDIA, me. Lelly Usiku.

Die bespreking het gefokus op die regulering van diamante in Namibië, die verskillende fases en die onderskeie verantwoordelikhede van Namdeb Diamond Corporation, Debmarine Namibia, NAMDIA en NDTC.

Al vier hierdie maatskappye het ’n 50/50 gesamentlike onderneming met die Namibiese regering en die De Beers-groep.

’n Gedeelte van die inkomste vloei gevolglik na die bruto binnelandse produk (BBP).

“NAMDIA is 100% ’n regeringsmaatskappy. Dit behoort aan die Namibiese mense,” het Hamutenya gesê.

“85% van NDTC se inkomste gaan na die regering. Dit word teruggeploeg in die land en word onder meer gebruik vir die bou van hospitale, klinieke en paaie,” het Eiseb gesê.

VERKOOPSREGULASIES

Volgens Hamutenya het NAMDIA ’n lisensie wat hulle die mag gee om diamante te verkoop.

“In die diamantbedryf is daar vier tipes lisensie. Daar is ’n lisensie wat ’n maatskappy in staat stel om te myn, ’n lisensie om te verkoop, ’n lisensie om diamante vir die vervaardiging van gereedskap te gebruik en ’n lisensie om diamante na te vors.”

Die ministerie van myne en energie is verantwoordelik vir die uitreiking van lisensies.

“Die lisensies help om die verspreiding van diamante te reguleer. Die sisteem en prosedures is daarop gerig om die verkeerde mense uit te dryf en kriminele aktiwiteite te verhoed,” het Hamutenya gesê.

DIE BEDRYFSLYN

Daar is verskeie fases van die diamantbedryf – die eksplorasie en myn van diamante, daarna die sortering en waardasie, gevolg deur die sny en polering. Diamante word dan bemark en verkoop en juwele word vervaardig. Die laaste fase sluit in die handel daarvan in winkels.

Namdeb en Debmarine is verantwoordelik vir die eksplorasie en myn van diamante in Namibië.

NDTC is verantwoodelik vir die sortering, waardasie, sny en polering van Namibiese diamante.

“Die waardasie van diamante is ’n baie belangrike stap in die diamantbedryf, want dit bepaal die presiese waarde van ’n diamant vir die regering se tantieme en die bedrag belasting wat op elke diamant betaal moet word,” het Eiseb gesê.

NAMDIA is ’n diamantbemarkings- en verkoopsonderneming. Hul doel is om ’n volhoubare roete te skep om ’n gedeelte van Namibië se gesogte diamante te bemark.

“My groot droom is om eendag in New York by ’n Tiffany & Co. in te stap en een van ons gesogte diamante te sien wat as ’n Namibiese diamant geadverteer word,” het Usiku gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-06-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer