Van rommel tot versiering
Hendrik Augab maak kunswerke uit blikkies, bottels en alles wat hy in die veld en om riviere kry.
Tanja Bause
“Wanneer ek iets moois in die veld sien rondlê, tel ek dit op en versier my huis daarmee.
“Elke stuk wat ek optel, is vir my besonders,” vertel mnr. Hendrik Augab.
Sy versierde huisie is in die Babilon- informele nedersetting geleë en vang vinnig die oog.
Augab neem vir die laaste tien jaar elke oggend sy trollie en gaan soek herwinbare materiaal.
“Ek het in 2007 my werk verloor en begin om koper, yster en aluminium in die veld en riviere op te tel en aan 'n skrootwerf te verkoop. So het ek darem elke dag bietjie geld om huis toe te vat na my familie toe.”
Op 'n dag het hy verby 'n huis geloop waar die vrou van die huis 'n klomp blikbekers teen haar blyplek vasgemaak en so versier het.
“Dit was vir my baie mooi. Ek het by myself gedink ek sien baie goed in die veld rondlê wat ek ook kan gebruik om my huis mooi te maak. “So het ek begin om die goed wat mense weggooi, te versamel,” het hy gesê.
Die eerste stuk wat hy opgetel en huis toe geneem het, was 'n vliegtuig. Die skroef beweeg as die wind waai en wys uit watter rigting dit waai. Daarna het hy 'n beeskop met groot horings en 'n Hererovrou-pop opgetel.
“Dit is ongelooflik wat mense weggooi en wat 'n mense kan vind as jy net kyk. Ek het al baie van die harde hoede wat konstruksiewerkers gebruik, en ook baie blikbekers opgetel.”
Ook is daar die horings van 'n blouwildebees en 'n springbok, 'n Duitse vlag en 'n mannekyn, kompleet met 'n kleurvolle pruik.
Volgens hom is hy soms gelukkig en vind hy vinnig herwinbare materiaal.
Dan is hy vroeg weer by die huis. Soms moet hy egter ver loop om genoeg materiaal bymekaar te maak om 'n bietjie geld te kry.
“Daar lê baie bottels, blikkies en ander goed in die veld en die riviere rond.
“Mense wat nie werk het nie, kan die goed optel en verkoop. Jy moet net gewillig wees om hard te werk, maar jy kan verseker wees jy gaan aan die einde van die dag geld huis toe bring, en as bonus maak jy ook die omgewing skoon,” het Augab gesê.
Augab het nege kinders en 14 kleinkinders. Hy is in die Okahandja-omgewing op 'n plaas gebore en het in Windhoek grootgeword. Hy het in 1991 in sy huidige huis ingetrek.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie