Van pastorie tot pasiu00ebnte se veilige hawe
Van pastorie tot pasiu00ebnte se veilige hawe

Van pastorie tot pasiënte se veilige hawe

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Op Gobabis het van boer tot gemeentelid hul harte en beursies oopgemaak om ’n broodnodige tuiste vir Covid-19-pasiënte op die dorp te skep wat versorging nodig het en nie in ’n hospitaal opgeneem hoef te word nie.

Ds. Peet van Zyl se gedagte om ’n tydelike vesting vir versorging te skep, het gekom nadat hy besoek by die private kliniek op die dorp afgelê het.

“Iemand met asemnood het die hospitaal binnegekom en is onmiddellik op suurstof geplaas, terwyl nog iemand dieselfde tyd met dieselfde nood sommer in sy motor gehelp is.”

“Ek het besef ons kapasiteit om mense te kan help, is hopeloos te min,” het ds. Peet tydens ’n onderhoud vertel.

Hy het die woonstel by die pastorie beskikbaar gestel vir twee mense wat net ’n suurstofkonsentreerder nodig het, om sodoende weer ’n bed in die kliniek oop te maak vir iemand wat ernstiger siek is.
Dit het egter nie hier geëindig nie en van sy kantoor (twee beddens), die sitkamer (twee beddens), sy oudste seun wat reeds uit die huis is se kamer (twee beddens) tot die naaldwerkkamer (twee beddens) en sy seun wat reeds werk en wat tydelik ’n ander heenkome gevind het, se kamer (een bed) is ingerig vir minder ernstige siek pasiënte.

“Die gevolg is dat ek Sondae se aanlyn preke nou kruisbeen op die bed uitwerk!”

Volgens ds. Peet het dit “geboemerang” tot iets groter en is drie beddens nou ook in die kerksaal ingedra.

“Dis makliker as almal in die huis is. Tussen my en my vrou, Elma, en ’n paar vrywillige helpers, neem ons almal se suurstofvlakke en hou hul huisdokters op hoogte.”

Spanne is ook ingekry uit die gemeenskap wat kom help, met die een wat die aand aan diens is, wat “sommer op ’n matras in die kombuis slaap”.

“Enige persoon van die straat word nie sonder meer hier ingeneem nie. Die persoon moet deur sy dokter na ons verwys word. Dit hang natuurlik alles af of ons plek en ’n konsentreerder het. Ons gaan van die veronderstelling uit dat dit ’n plek vir ‘gesonde’ siek ouens is.”

Volgens hom het twee mense in die huis gesterf, terwyl twee wat aanvanklik hier gehuisves was, verswak het en in die hospitaal gesterf het.

Gister moes hy weer drie mense wegwys omdat daar eenvoudig nie meer plek is nie.

Tans is hier nege konsentreerders.

“Ons het drie van ’n plaaslike motorhandelaar ontvang, ander was ou masjiene in private besit wat deur mense hier afgelaai is. Die gemeenskap, boerevereniging en private maatskappye het ook mildelik die projek ondersteun”.

Volgens ds. Peet het nie een van die vrywilligers – wat van etes maak tot suurstof meet – ’n mediese agtergrond nie en die voorwaarde is dat hulle reeds Covid-19 moes gehad het.

“’n Dokter sit die drip op en doen soos ’n saalronde.”

In sommige gevalle is die man siek en dan sal sy vrou kom help met “van skorsies skil tot skottelgoed was”.

Tans woon 14 mense hier waarvan nege siek is.

Die vrywilligers werk in spanne en ds. Peet erken hy en Elma trek elke oggend die dag “se struktuur” op.

Daar is spanne wat kos skep en uitdeel, ander wat bloeddruk en suurstof meet om aan die dokter te wys “so lyk die pasiënt vandag”.

“Daar is ’n klomp mense in die gemeenskap wat betrokke is, onder eer ’n span wat die kos oorgeneem het, ons gee net die getalle deur. Ons gee ook vir vyf gesinne tuis kos waar die persone te siek is om self dit voor te berei.”

Volgens ds. Peet is enige persoon met Covid-19 aanvanklik “soos ’n melaatse” behandel. “Daarom ook dat dié wat in die huis help, self Covid-19 gehad het, hulle verstaan waardeur die pasiënte gaan en is nou in staat om nou ander te help en by te staan.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer