Van 'n leerling in graad 10 aan die minister
Van 'n leerling in graad 10 aan die minister

Van 'n leerling in graad 10 aan die minister

Dani Booysen
JOSEFINE SKRYF:

Geagte minister van onderwys, kuns en kultuur,

As leerling wat graad 10 geslaag het, het ek die behoefte om vir u 'n brief te skryf. Ek bewonder u.

Toe ek die goue rok sien waarmee u by die hofsaak opgedaag het, het my respek vir u toegeneem. Ek aanvaar dat u u skoolopleiding voor onafhanklikheid ontvang het en dat dit baie suksesvol was - anders sou u nie hierdie belangrike, indien nie die heel belangrikste pos, in ons regering kon beklee nie. Graag wil ek ook eendag so suksesvol soos u wees.

Ek is egter baie teleurgesteld oor die uitspraak wat u tydens die bekendstelling van die eksamenuitslae vir 2018 gemaak het. U gee die skuld vir die ouers en leerlinge. Dit is 'n onregverdige veralgemening.



MY OMSTANDIGHEDE

Ek is seker dat u ook selfondersoek gedoen het. As leier van die belangrikste ministerie aanvaar ons dat u die tekortkominge ken en dus sonder versuim daadwerklike oplossings sal vind en implementeer.

Graag wil ek vir u die omstandighede waaronder die meeste van ons moet studeer, beskryf. Miskien ken u nie die omstandighede waaronder ons elke dag leef nie.

Ons is vier kinders wat saam met ons ouers in 'n blikhuisie met twee kamers bly. In die somer is dit ondraaglik warm en in die winter kry ons baie koud.

My ouers verlaat die huis baie vroeg in die oggend. My pa soek elke dag 'n werkie, terwyl my ma kapana langs die straat verkoop. So kry hulle dit reg om amper elke dag kos op die tafel te sit.

Ten spyte van hierdie moeilike omstandighede het hulle dit reggekry om vir almal van ons van die nodige handboeke en skryfbehoeftes te voorsien. Eintlik die staat se plig?

Ons vier kinders moet elke dag drie kilometer loop om by die skool uit te kom. Die pad is gevaarlik, daarom loop ons altyd in groepe saam.

In my klas is daar veertig leerlinge en die onderwysers het dus 'n groot taak om almal se aandag op die werk te vestig. As daar handboeke is, moet dit gedeel word.

Die dak is stukkend en as dit reën of 'n sterk, stowwerige wind waai, moet ons die klas verlaat en skuiling elders soek. Onderrig word onderbreek.

As die reën of wind ophou, moet ons eers die klas weer skoonmaak. Gewoonlik is dit teen daardie tyd al die einde van die skooldag.

Ons het egter baie goeie onderwysers, wat vir ons ook nadat die skool uitgekom het, nog help.



GOOGLE

U stel voor dat ons van Google gebruik moet maak om ons kennis te verbreed. Ons skool het egter net een rekenaar wat in die hoof se kantoor staan.

'n Buitelandse organisasie het wel rekenaars aan die skool geskenk, maar dit staan ongebruik in 'n stoorkamer. Niemand kan dit installeer nie. Miskien is daar iemand op hoofkantoor wat ons kan help.

Die biblioteek is verwaarloos en onbruikbaar. Geen onderwyser is beskikbaar nie. Ook hier kan hoofkantoor dalk help?

Ná skool stap ons maar weer huis toe. Ons kan aan geen naskoolse aktiwiteite deelneem nie.

By die huis moet ons maar self toesien dat ons 'n ietsie in ons maag kry en dan begin ons onmiddellik met ons huiswerk. Dit moet in daglig afgehandel word. Ons het net kerslig in die aande, maar baie erger is die geraas wat van die nabygeleë sjebeen oorwaai en aanhou tot in die vroeë oggendure.

Dit is maar net 'n paar probleme wat ons elke dag moet aanvaar.

Ek wil my ouers en onderwysers bedank vir hul ondersteuning. Sonder hulle sou ek een van die 46,7% van graad 10-leerlinge wees wat onsuksesvol was.

Volgende jaar sal ek graag ook die ministerie wil bedank – hierdie jaar kan ek dit ongelukkig nie doen nie.

Geagte minister, ek wil graag my skoolloopbaan suksesvol afsluit. Dieselfde geld vir duisende van die kinders wat onder dieselfde omstandighede as ons moet lewe en skool toe gaan.

Ons jong mense moet eendag gereed wees om tot ons land se ontwikkeling en voorspoed by te dra. Soos dit nou aangaan, is ons egter tot ondergang verdoem.

Moet nie altyd die skuld vir ouers, leerlinge en onderwysers gee nie. Die meeste van hulle probeer hul bes.

Die leiding en oplossings moet van bo kom.

Ek is oortuig dat u in die komende skooljaar gebruik sal maak van die amptenare wat op hoofkantoor aangestel is. Hulle moet die skole wat sukkel, besoek en met raad en daad bystaan. Daarvoor ontvang hulle immers 'n goeie salaris en byvoordele. Dit is hulle wat die kennis het en beslis kan bydra tot die oplossing van probleme.

Ons lees ook koerante en weet dat die tekort aan geld altyd as verskoning gebruik word. Maar ons lees ook van die vermorsing van geld, die korrupsie, ens. As dit daadwerklik vasgevat word, kan ons die omstandighede in ons staatskole beslis verbeter.

Baie dankie dat u die brief van 'n bekommerde leerling sal lees en ook ter harte sal neem.

Groete

Josefine

* Hierdie brief kom uit die pen van mnr. Ernst Hashagen, 'n afgetrede skoolhoof. Hy het Josefine as skuilnaam gekies om hierdie skrywe uit die oogpunt van 'n graad 10-leerling aan te bied.

Kommentaar

Republikein 2024-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United | Liverpool 4 vs 2 Tottenham Hotspur | Brighton 1 vs 0 Aston Villa | Chelsea 5 vs 0 West Ham LaLiga: Rayo Vallecano 0 vs 1 Almería | Sevilla 3 vs 0 Granada | Valencia 0 vs 1 Deportivo Alaves | Celta Vigo 3 vs 2 Villarreal | Osasuna 0 vs 2 Real Betis SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta | AS Roma 1 vs 1 Juventus | AC Milan 3 vs 3 Genoa | Empoli 0 vs 0 Frosinone | Hellas Verona 2 vs 1 Fiorentina | Cagliari 1 vs 1 Lecce #N/A Currency: GBP to NAD 23.16 | EUR to NAD 19.97 | CNY to NAD 2.57 | USD to NAD 18.58 | DZD to NAD 0.14 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.31 | EGP to NAD 0.38 | KES to NAD 0.14 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.67 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.64 | RUB to NAD 0.2 | INR to NAD 0.22 | USD to DZD 133.94 | USD to AOA 834.06 | USD to BWP 13.64 | USD to EGP 47.5 | USD to KES 130.98 | USD to NGN 1382.9 | USD to ZAR 18.58 | USD to ZMW 27.27 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index 76929.5 Up +0.20% | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1715.92 Up +1.01% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 13375.47 Up +0.10% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 26429.69 Up +1.21% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 312.60/OZ DOWN -0.0005 | Copper US$ 4.50/lb DOWN -0.0127 | Zinc US$ 2 919.80/T DOWN -1.16% | Brent Crude Oil US$ 82.80/BBP DOWN -0.009 | Platinum US$ 967.50/OZ DOWN -0.0113 #N/A