Van lugwaardin tot tentopslaner en lugswaaier
Kleintydse drome het ’n manier om iewers tussen boksterte en skoolbanke en die grootmenswêreld te verander en te verdwyn. Toe se ideale en drome was meestal verweef met karakters in boeke of mense wat oor my pad gekom het. Van aktrise tot lugwaardin tot die hoofkarakter in ’n swart-en-wit boekie wat saam met die Wit Tier en Tessa ‘n storie tussen die blaaie vertel.
Die ontstaan van die meeste van die drome vir “as ek eendag groot is”, was tussen die blaaie van die klein biblioteek se handvol boeke of in die persoonlike versameling van ouma Vlam se boekrak tuis. Ouma Vlam se boeke is aangestuur deur ’n boekklub waaraan soveel ander vroue ook behoort het en wat gereeld in ’n pakkie by die poskantoor/sentrale op die dorp verskyn het. Wanneer die biblioteek se boeke klaar gelees was, iets wat gereeld en vinnig gebeur het, was dit een van die boekklub se soentjieboeke se beurt.
Ettie Bierman was ’n groot gunsteling. ’n Hele paar van tannie Ettie se boeke het ’n lugwaardin as die held gehad. So begin die drome van lugwaardin word vorm aanneem. Van die mooie bloue uniform met die bolhoedjie op die kop en die vlieënde springbok-borsspeld regs bo vasgesteek tot die skoene tot die stem wat oor die interkom verduidelik waar is die suurstofmasker, hoe sit jy jou veiligheidsgordel aan en waarnatoe moet jy beweeg wanneer dit tyd is om uit te klim.
In verbeeldingsvlugte het ek oor die Oranje gevlieg. Tot in Suid-Afrika was genoeg vir my, enigiets buite my grootworddorp was so goed soos oorsee.
Tannie Toeks Blignaut se boeke het koetse en swaarde en vroue met korsette in gehad. Sou die lugwaardinopsie nou nie verwesenlik word nie, het ek gereken moet daar iewers op die aardbol ’n dorp of ’n land wees waar ek gekorset en gekoets kan wees. Ek wou net ook ’n swaard hê. En my eie perd. En my eie sakkie vol goue munte. En verkieslik moes die gerokdraery net vir Sondae geld, tannie Toeks se manlike helde se kuitbroeke en los hemde het ek baie meer aantreklik en gemaklik gevind.
Vir ’n kort wyle wou ek ’n tentopslaner en ’n toespreker word. As ek reg onthou, was dit in ’n tyd van politieke gewoel toe politieke partye kiesers met “stickers”, vlaggies, wit-en-blou streeptente en pap-en-wors gewerf het om ’n regmerkie by hul name in die verkiesing te verseker. Die lus vir toesprekery het eerste verdwyn.
Die tentopslanery ook.
Toe kom maak die sirkus ’n draai op die grootworddorpie. Weliswaar nou nie van reuse-omvang en -formaat nie, maar genoeg om my toekomsdroom van tentopslaner na touswaaier te verander. Of dit die lugswaaiery of die kostuum was wat die droom teuels gegee het, kan ek nie onthou nie. Maar ek droom van ’n blinkertjie-“leotard”, my hare in ’n ronde bolletjie op my kop en ’n skare wat snak elke keer as ek die “swing” vir ’n “spin” vat.
Die val uit die Flamboyant-boom voor in die tuin bring ’n einde aan dié droom. Sirkusswaaie is aansienlik hoër as bome en die val soveel verder.
Op hoërskool verskuif die droom van as ek eendag groot is, na die verhoog. Met mening slaan dit toe met die verskyning van Rob Lowe en Andrew McCarthy as deel van die Brat Pack wat onder meer in St. Elmo’s Fire te sien is. My naam in ligte en my gesig op die voorblaaie van wêreldse tydskrifte. Die meisie van Otavi met die Afrikaanse Hollywood-aksent. Wat swymel in Rob se arms en saam met Andrew wegloop.
Vandag is die lugwaardin en die tentopslaner en die lugswaaier steeds wat dit toe was . . . toeka se drome. En my werklikheid die woorde en skryf waarin ek my loop vasgroei het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie