Van Lill en WB-maats moet toon aangee
Rugby
Andrew Poolman – Op 37-jarige leeftyd was Pieter-Jan van Lill die logiese keuse as kaptein van die blinknuwe afrigter Allister Coetzee se eerste Namibiese toetsspan wat môre die Ivoorkus in Abidjan aandurf.
Heel voorspelbaar is Van Lill en tien uit die elf oorblywende lede van die 2019 Wêreldbeker in Japan almal in die beginspan vir Namibië se eerste internasionale aksie vandat die Covid-19-pandemie wêreldsport in die wiele begin ry het.
Namibië (25ste) is op die wêreldranglys heelwat hoër gereken as Ivoorkus (42ste) óf sy volgende opponent komende Woensdag, Madagaskar (51ste).
Dus sal die Namibiërs ondanks moontlike verroestheid bitter graag hul stempel met gesag wil afdruk in hierdie mini-toernooi. Net twee uit die drie sal oorleef om volgende jaar in Rugby Afrika se Top Agt die beslissende uitklopwedstryde vir die 2023 Wêreldbeker te betwis.
Die vlugvoetige klein skrumskakel Riaan van Zyl is die enigste debutant in die beginspan, maar op die reserwebank is sy ouboet Hanreco (losskakel), die haker Gerhard Thirion, stut Simon Kanime, flank Cameron Langenhoven, senter Ethan Beukes en heelagter Ricardo Swartz almal in afwagting om dalk ook opgestuur te word.
PJ van Lill, met 51 toetse agter die blad, het verreweg die meeste ondervinding en is die enigste wat eerstehands kan getuig dat Ivoorkus in 2009 die span onder aanvoering van Kees Lensing tot in die diep water gesleep het met 'n gelykopuitslag van 13-13.
In 1994 het die Ivoorkus by die uitduntoernooi in Casablanca sy enigste, verstommende sukses met ’n enkele punt (13-12) teen die Namibiese span van Gerhard Mans se span behaal, wat tot hul verskyning by die 1995 Wêreldbeker in Suid-Afrika gelei het.
In die ander twee kragmetings was Namibië egter beide kere baas. Johan Venter se span het in 1998 in Casablanca, Marokko, met 22-10 gewen. Die Ivoriane het ook twee weke ná hul gelykopuitslag van 2009 swaar geleef toe hulle in Windhoek met 54-14 deur die span onder afrigterskap van John Williams afgeransel is.
Republikein verneem dat reënbuie en bedompigheid die afgelope dae die Namibiërs laat reken dat nattigheid moontlik 'n invloed op môre se tweestryd kan hê.
Coetzee sê die beplanning- en oefensessies sedert hul aankoms Maandag was produktief en hoewel verroestheid ná die afgelope maande nie 'n groot verrassing sal wees nie, glo hy Namibië sal die knoop deurhaak.
“Daar is altyd ruimte vir verbetering, maar ons wil graag sien hoe hoog ons die spyker kan inkap. Die borrelende opgewondenheid op die oefenveld is 'n goeie teken. Die gees is goed, hulle is op ’n goeie plek.
“Ons weet redelik min van die Ivoorkus se span wat seker ook nie onlangs baie gespeel het nie, maar ons beoog om ons prosesse te volg en ons planne uit te voer.”
Die 2019 WB-stut Desiderius Sethie het by 'n oefensessie sy knie beseer en is gevolglik buite rekening. Namibië sal dus 'n plaasvervanger moet invlieg voor die stryd Woensdag teen Madagaskar, hoewel dié naam vanweë die Covid- en reisprotokol waarskynlik eers later bekendgemaak sal word.
Die Namibiese span: 15 Johann Tromp, 14 Oderich Mouton, 13 Lesley Klim (onderkaptein), 12 Peter-John Walters, 11 Gino Wilson, 10 Helarius Kisting, 9 Riaan van Zyl, 8 Adriaan Booysen, 7 Max Katjijeko, 6 Prince !Gaoseb, 5 Ruan Ludick, 4 Pieter-Jan van Lill (kaptein), 3 Nelius Theron, 2 Obert Nortje, 1 André Rademeyer.
Reserwes: 16 Gerhard Thirion, 17 Jason Benade, 18 Simon Kanime, 19 Johan Retief, 20 Cameron Langenhoven, 21 Hanreco van Zyl, 22 Ethan Beukes, 23 Ricardo Swartz.
FOTO
Die kaptein Pieter-Jan van Lill wys die Namibiese trui. Foto verskaf

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie