Valse tye waarin als goed en reg is
Valse tye waarin als goed en reg is

Valse tye waarin als goed en reg is

Mandy Rittmann
ANDRE SMITH SKRYF:

Ons land gaan gebuk onder goddeloosheid wat by die dag net 'n groter probleem word. Ons volk sug en word moedeloos, want oplossings is daar nie.

Die Bybel skryf hierdie toestand toe aan die profete van die dag wat 'n valse boodskap verkondig. Jeremia 23:17 sê: “Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: Julle sal vrede hê, en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: Geen onheil sal oor julle kom nie."

Die misleidende boodskap van hierdie tyd is genade, liefde en vergifnis wat alle sondes vergewe. Oordele word nie meer verkondig in hierdie moderne bedeling nie.

Paulus sê hy is bevrees dat net soos die slang in sy listigheid Eva bedrieg het, hy ons ook gaan bedrieg deur 'n ander Jesus, 'n ander evangelie en 'n ander gees aan ons te verkondig. “En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig.” (2 Kor. 11:1 – 15)

Om hierdie toestand van ongeregtigheid uit te blus, is daar net een oplossing - die waarheid sal weer verkondig moet word. Die Bybel sê: “en julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak.” (Joh. 8:32)

Die groot oorsaak is, leraars het die “genade van ons God verander in ongebondenheid en die enigste Heerser, God en onse Here Jesus Christus verloën” en dit doen hulle “terwyl hulle mense vly ter wille van voordeel”. (Judas 1:4,16) Esegiël 22:26 lees: “Sy priesters verkrag my wet en ontheilig my heilige dinge: tussen heilig en onheilig maak hulle geen onderskeid nie, en die verskil tussen onrein en rein gee hulle nie te kenne nie, daarby maak hulle hul oë toe vir my sabatte: ja, Ek word onder hulle ontheilig.”

Vandag word die Wet verkrag en is sekere gebooie nie meer van toepassing op ons nie, maar moedswillig word vergeet dat Jesus nie gekom het om die wet en die profete te ontbind nie en dat enigiemand wat een van hierdie gebooie breek en die mense so leer die minste genoem sal word in die koningkryk van die hemele. Want voorwaar" “Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet verbygaan totdat alles gebeur het nie.” (Matt 5:17-20)

Wat is dan die oplossing? Die land se profete (predikers) sal drasties 'n ommekeer moet maak en preek ooreenkomstig die voorskrifte van die Woord, dan sal genesing beslis intree (Deut. 28). Die oordeel van valse leraars word saamgevat in 2 Petrus 2.

Daar sal weer gepreek moet word van onder andere: Die rusdag (7de dag), wat nie meer gehou word en ontheilig word nie. Sonde moet by die naam genoem word en veroordeel word volgens die Skrif. Die hel waar die wurm nie sterf en die vuur wat nie uitgeblus word nie, sal moet verkondig word. (Mark. 9:42-50) Die dag van die Here wat kom, wat ook die groot verdrukking genoem word, sal moet verduidelik word. (Jes. 24, Matt 24:1-35) Die tekens van die tye en die wederkoms moet uitgelê word. Wedergeboorte en die genesing van 'n sondaar moet verduidelik word. Die nuwe pad wat ingeslaan moet word, sodat God ons Vader kan wees, moet voorgehou word. (2 Kor. 6:14 – 7:1)

Die toorn van God saam met Sy genade, liefde en vergifnis moet in sy geheel verduidelik word.

Om te bid en hande op te hef en kerk toe te gaan sonder om hierdie gewigtige saak uit te maak, sal nie help nie. Die Here sê, kom laat ons die saak uitmaak (Jes. 1, Op. 3:14-22).

Kommentaar

Republikein 2025-05-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer