Vals nuus en halwe waarhede
Vals nuus en halwe waarhede

Vals nuus en halwe waarhede

Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Nou die dag sit ek in ‘n dokter se wagkamer en blaai deur ‘n ou Rooi Rose toe ek op ‘n rubriek afkom wat Lizz Meiring in 2013 oor vals nuus geskryf het.

Dis lank voor pres. Donald Trump van Amerika dié term in die volksmond geplaas het.

Lizz se rubriek gaan oor aannames wat mense maak oor enigiets wat hulle op die internet lees of sommer net iewers hoor en sy wonder wie die “hulle” in “hulle sê dit is so” nou eintlik is. Sy wei ook uit oor die feit dat joernaliste lui geword het en nie meer die feite deeglik nagaan voor dit goedsmoeds herhaal word nie.

Ek moes baie mooi na die datum kyk, want my eerste gedagte was, Lizz, as jy in 2013 al bekommerd hieroor was, sal jy vandag ‘n angsaanval kry oor die lukrake manier waarop vele skrywers in die media met feite omgaan.

Ja, ons joernaliste het lui geword.

Ons glo te maklik en versuim om feite wat iemand as die waarheid verkondig, met twee of drie ander bronne ook te bevestig.

Eenbronberigte wat dikwels anoniem is, word te gereeld in die media gepubliseer en telkens kom die verskonings en die regstellings ‘n rukkie later.

Sulke verskonings en regstellings behoort vir elke joernalis wat sy of haar sout werd is, ‘n verleentheid te wees. Dis ‘n direkte erkenning dat die joernalis nie sy werk behoorlik gedoen het nie en slordig met die feite was.

Toegegee, daar is tye wat ‘n anonieme bron vanweë die senior posisie wat hy of sy in ‘n organisasie of in die staatsdiens beklee, as hokaairoeper vertrou kan word.

So ‘n persoon se vertroulike inligting oor ‘n sensitiewe saak is dikwels bo verdenking, maar dit bly steeds die joernalis se verantwoordelikheid om dubbel seker te maak dat daar geen verskuilde agendas is nie.

Dikwels moet regeringslui self die skuld kry as verkeerde inligting in die media gepubliseer word.

Ons hoor aldag die gepredik uit die hoogste kringe dat deursigtigheid moet seëvier om goeie staatsbestuur te verseker.

Doen ‘n joernalis egter deur die regte kanale skriftelik navraag oor ‘n sekere sensitiewe aangeleentheid, wil dit voorkom asof van die owerhede se kant alles moontlik gedoen word om die krane styf toe te draai, eerder as om oop kaarte te speel. Dit lyk of alles moontlik gedoen word om die “knaende” media óf te vermy óf om die bos te lei.

Te dikwels in die verlede het ek bevestigde feite gehad waarop ek ministeriële reaksie wou kry sodat die betrokke ministerie se reg tot repliek gerespekteer sou word.

En te dikwels het die minister my in die oë gekyk en sonder om te huiwer, gelieg.

As joernaliste verantwoordelik gehou word vir die nagaan van feite en die publikasie van akkurate inligting, behoort die regering ook die hand in eie boesem te steek en oop kaarte met die media te speel, selfs al is dit soms ongemaklik.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer