Vakbond, regering stamp kop oor huishulpe
Augetto Graig – Die permanente sekretaris in die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, sê daar steek geen waarheid in die Namibiese Unie vir Huishulpe en Verwante Werkers (NDAWU) se aantyging dat die regering sloer met die bekragtiging van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se konvensie om huishulpe in Namibië se regte te beskerm nie.
Me. Nellie Kahua, NDAWU se sekretaris-generaal, het Woensdag tydens ‘n nuuskonferensie gesê die regering het besluit om die ILO se Konvensie 189 eers in 2024 te bekragtig. Sy het dié beweerde besluit as “teleurstellend en onaanvaarbaar” beskryf.
Onder meer verbind dié konvensie lande wat dit bekragtig aan die versekering van huishulpe se regte. Dit sluit ’n minimum aanstellingsouderdom, die voorkoming van kinderarbeid en beskerming teen dwangarbeid in.
Volgens die konvensie is werkskontrakte en rusperiodes vir huishulpe verpligtend.
Hiervolgens het huishulpe die reg op minstens een rusdag per week.
Huishulpe se reg om aan ’n vakbond te behoort, word ook deur die konvensie beskerm. Die konvensie vereis ook dat die regering huishulpe teen misbruik, teistering en geweld in die werksplek beskerm.
Namibië voldoen reeds aan die vereistes van die konvensie op een gebied, en dit is die daarstel van ’n minimumloon.
Arbeidsadvieskomitee
Shinguadja het gister aan Republikein gesê die regering dra geen kennis van 2024 as ‘n sperdatum nie. “Daar steek dus nie ‘n greintjie waarheid in NDAWU se bewering nie,” het hy gesê.
Boonop, sê Shinguadja, is die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) – waarvan NDAWU deel is – ‘n lid van die drieledige arbeidsadvieskomitee wat die minister van raad oor die bekragtiging van konvensies bedien. Kahua dien op dié komitee, sê hy.
NDAWU se aantygings dien as bewys dat dié vakbond nie weet hoe bekragtiging werk nie, aldus Shinguadja. Volgens hom het NDAWU bloot die kwessie gebruik omdat hulle môre op Internasionale Huishulpdag “gehoor” wou word.
NDAWU beplan môre ’n optog om die publiek van huishulpe se lot bewus maak.
Me. Meriam Nicodemus, direkteur van internasionale betrekkinge in die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, het by navraag aan Republikein gesê Konvensie 189 is reeds aan die arbeidsadvieskomitee voorgelê om die bekragtiging daarvan al dan nie vir die minister aan te beveel.
Hoewel Nicodemus nie kon sê wanneer die aanbeveling gemaak sal word nie, het sy bevestig die konvensie is wel op die komitee se agenda.
Syfers
Volgens Kahua is daar tans meer huishulpe in Namibië as wat die beskikbare syfer van 2014, toe daar 46 000 huishulpe landswyd was, aangetoon het.
Die meerderheid van dié werkers was ongeletterd en ongeskool.
Gegewe dié syfer het die vakbond min lede, hoewel daar tans heelwat meer is as in 2015, toe die vakbond met slegs 800 lede gestig is. Vandag het NDAWU 2 200 lede.
Hulle betaal by aansluiting ’n registrasiefooi van N$40, asook ’n maandelikse lidmaatskapfooi van N$20. Die verskaffing van geldige identiteitsdokumente word by registrasie vereis.
Lede het toegang tot ’n begrafnispolis teen ’n bykomende N$5 per maand, wat dekking van tot N$5 000 bied, mits lede die vakbond nie geld skuld nie.
Onder meer beoog die vakbond om die regering se aandag op die lot en swaar werksomstandighede van huishulpe in Namibië te vestig.
“NDAWU wil die regering aan die dringende behoefte herinner om huishulpe se regte toe te pas en hulle van uitbuiting by die werk te red deur dié konvensie te bekragtig. Ons rig ’n dringende versoek aan die regering om dit onmiddellik te doen,” het Kahua gesê.
‘Baie swaar’
“Huishulpe kry in die werksplek baie swaar. Van hulle teken werkskontrakte, van hulle nié, van hulle word fisiek misbruik, ander werk teen min of geen vergoeding en moet die skending van hul algemene regte as werkers verduur,” sê sy.
Volgens Kahua het geslagsgeweld ’n negatiewe impak op huishulpe in Namibië se werksomstandighede.
Sy sê ’n proaktiewe benadering moet gevolg word om huishulpe se veiligheid te verseker.
“Huishulpe bevind hulself in onbillike posisies teen lae lone en min status, wat bydra tot die probleem van geslagsgebaseerde geweld.
“Hulle is bang om hul bron van inkomste te verloor en huiwer al meer om geweld in hul werksplek openlik te veroordeel. Dit bevorder die geweld en dus ondraaglike omstandighede by die werk,” sê sy.
Volgens Kahua word huishulpe té dikwels tydelik aangestel, wat nie net lae vergoeding en min status beteken nie, maar ook geen besluitnemingsmagte insluit of die geleentheid om oor werksvoorwaardes te onderhandel nie, en dít dra by tot geslagsgeweld.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie