Vaatz verloor straatnaam-geveg
Vaatz verloor straatnaam-geveg

Vaatz verloor straatnaam-geveg

Veranderinge wettig
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - ’n Uitspraak deur die hooggeregshof in ’n saak deur mnr. Andreas Vaatz aanhangig­ gemaak, is verlede Vrydag deur regters Gerhard Maritz, Sylvester Mainga en Simpson Mtambanengwe ten gunste van die munisipaliteit van Windhoek gelewer. Die saak spruit uit die herbenaming van twee strate, Gloudinastraat na Josef Mukwayu Ithanastraat en Uhlandstraat na Dr. Kenneth David Kaundastraat.

Vaatz het in Mei 2011 ’n aansoek by die hoërhof ingedien en versoek dat die hof gelas dat die munisipaliteit van Windhoek nie die name van Gloudina- en Uhlandstraat in Ludwigsdorf en Klein Windhoek onder­skeidelik, moet verander sonder om die inwoners en diegene wat besighede daar bedryf, te raadpleeg nie.

Vaatz het ook die hof versoek om die munisipaliteit verantwoordelik te hou vir enige koste wat die inwoners as gevolg van die herbenaming van die strate moes aangaan.

Dit behels onder meer die verandering van straatkaarte, die herdruk van rekords, briefhoofde en kennisgewings aan vriende, sakevennote en verskaffers en maatskappye wat dienste, herstelwerk en aflewerings by sodanige addresse doen.

Dié aansoek is deur die hoërhof van die hand gewys en Vaatz het ’n appèl by die hooggeregshof ingedien. In ’n eedverklaring ter ondersteuning van sy aansoek het Vaatz aangevoer: “Nie die respondent (die munisipaliteit) of Joseph Mukwayu Ithana of Swapo het enige bydrae gemaak tot wat die straat vandag is nie.

“Die respondent behoort my te gekonsulteer het en my siening en dié van die ander inwoners van Gloudinastraat in aanmerking geneem het voor enige besluit in verband met die verandering van die naam geneem is. Ons moes ten minste ’n geleentheid gegun gewees het om beswaar teen die beoogde naamverandering aan te teken.”

Gloudinastraat

Hy het verder aangevoer dat geen dwingende rede bestaan het waarom Gloudinastraat se naam verander moes word nie en dat die naam nie in enige opsig aanstootlik was nie. “Daar is nuwe ontwikkelings in Windhoek waar die respondent die naam Joseph Mukwayu Ithana kon gee,” het hy gesê.

In ’n eedverklaring het mnr. Niilo Taapopi, die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit in daardie stadium, ontken dat Vaatz of ander inwoners nie die geleentheid gehad het om hul mening te lug vóór die stadsraad hul besluit geneem het nie.

’n Beleidsdokument in Junie 2005 deur die munisipaliteit aanvaar, sit die doelwitte van dié beleid uiteen; onder meer dat voorgestelde nuwe straatname belangrike persone wat met die stad, Namibië en internasio­naal verbind word, gedenk en ook om name wat sterk positiewe betekenisse vir mense inhou, te bevorder.

Die regters het tot die slotsom gekom dat Vaatz en diegene namens wie hy opgetree het, nie kan sê hulle het nie kennis ontvang van die beoogde naamveranderings nie en ’n kennisgewing was verskeie jare voordat die name verander is, aan belastingbetalers en inwoners gestuur.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer