Usakos-hoof verdedig huistransaksie
Usakos-hoof verdedig huistransaksie

Usakos-hoof verdedig huistransaksie

Augetto Graig
Augetto Graig - Die verkoop van 'n huis op Usakos laat die wenkbroue lig.

Dít ná die dorpsraad 'n advertensie in 'n koerant geplaas het om die gemeenskap hiervan in te lig en om moont­like besware daarteen in te samel.

Die versoek is gerig dat besware na die kantoor van die dorp se uitvoerende hoof gestuur word, waar die voornemende koper, mnr. Reinhold Hermanus Evenson, ook tans die waarnemende hoof is.

Veral die amptelike ­opposisieparty, die People's Democratic Movement (PDM), het in 'n nuusverklaring 'n beroep op die minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, gedoen om aandag aan dié saak te skenk wat die party as blatante selfverryking beskryf.

Volgens die PDM is dit 'n botsing van belange indien die voornemende koper van die huis op Erf 379, 'n erf van 1 118 vierkante meter, wat die huis teen 'n bedrag van N$220 000 wil koop, ook besware teen dié potensiële transaksie moet ontvang.

“Dit maak hom beide die regter en die jurie van 'n transaksie waarin hy 'n direkte belang het,” sê die PDM.

Evenson het egter enige korrupsie of ongeregtigheid ontken toe hy Vrydag met die nasionale nuusagentskap Nampa gepraat het.

Hy het gesê dit is die standaard prosedure wat gevolg word en het die doel van dié kennisgewing uiteengesit.

Evenson huur die huis waarom die storm woed al sowat vyf jaar lank.

Hy sê dit is blote toeval dat hy die waarnemende hoofbeampte van die dorpsraad is, en dat alle besware volgens ­prosedure deur die kantoor van die uitvoerende hoof moet gaan.

Volgens hom sal hy nie noodwendig enige invloed op die hantering van besware hê nie, juis omdat hy in hierdie geval die koper is.

“Ek het my kollegas geraadpleeg voor ek die advertensie geplaas het, want ek het geweet daar sal 'n botsing van belange wees.

“Daarom het ons Selma /Gases aangestel om die korrespondensie te hanteer,” het hy aan Nampa gesê.

“Ek is geregtig daarop om grond te koop, dus kan dit nie korrupsie genoem word om die huis te koop nie, al is ek die waarnemende uitvoerende hoof,” het hy gesê.

Die dorpsraad se menslike hulpbronne­bestuurder, mnr. Manfriedt Weskop, ondersteun Evenson se argument en sê ses dorpsraadhuise was aanvanklik vir senior personeel beskikbaar voor die raad besluit het om hulle te verkoop in 'n poging om op onderhoudskostes te bespaar.

Vyf van dié huise is reeds volgens Weskop verkoop en die besluit om die sesde huis aan Evenson te verkoop, is reeds in 2016 gemaak - lank voor Evenson in Julie verlede jaar tydelik die leisels by die munisipaliteit oorgeneem het.

Weskop sê rekord word gehou van alle korrespondensie wat ontvang word.

Hy sê munisipale prosedures skryf ook voor dat briewe uitgereik word om die ontvangs van besware amptelik te erken.

Nietemin sê die PDM “hierdie tipe gedrag is 'n duidelike aanduiding van wat in ons plaaslike owerhede gebeur, waar mense hul posisies gebruik om hulself of hul vriende en familie te bevoordeel, tot nadeel van mense buite die raad wat aansoek doen om grond te koop.”

Hulle sê ook dis geen wonder gewone mense bly jare lank op 'n waglys sonder om ooit grond te koop nie.

Usakos se munisipale waglys van in­woners wat grond by die dorpsraad wil koop, behels tussen 800 en 1 000 aansoekers, het Weskop gesê. – Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2025-05-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer