US vereer Dirk Mudge as 'vredesmakelaar'
US vereer Dirk Mudge as 'vredesmakelaar'

US vereer Dirk Mudge as 'vredesmakelaar'

''n Groot eer het die afgetrede veteraanpolitikus mnr. Dirk Mudge te beurt geval. Die Universiteit Stellenbosch het aangekondig dat ''n eredoktorsgraad aan hom toegeken word vir onder meer sy bydrae tot Namibië se onafhanklikwording.
Estelle de Bruyn
Die voormalige leier van die DTA en ouddireksievoorsitter van Democratic Media Holdings (Namibia Media Holdings se voorganger), mnr. Dirk Mudge, is onder ses nuwe ontvangers van eregrade van die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika.

Mudge het 'n kernrol gespeel om die voormalige Suidwes-­Afrika se oorgang tot 'n politieke demokrasie te fasiliteer. Hy ontvang die graad doktor in die wysbegeerte (PhD).

Volgens 'n verklaring deur die universiteit ken die US jaarliks eredoktorsgrade toe om erkenning te gee aan uitnemendheid op 'n verskeidenheid vakterreine en om sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap te identifiseer.

“Mnr. Dirk Mudge het 'n kernrol gespeel om die voormalige Suidwes-Afrika­ se oorgang tot 'n politieke demokrasie te fasiliteer en kan stellig as een van die hoofargitekte van Namibië se onafhanklikwording beskou word.

“Met besondere visioenêre,­ strategiese en transformasiegerigte leier­skap het hy nie net as ''vredes­makelaar'' gedien en sy tradisionele ondersteuningsbasis op 'n nuwe pad gelei nie, maar ook 'n beduidende rol gespeel om versoening tussen wit en swart in Namibië te bewerkstellig. In baie opsigte het hy die dooie punt help verbreek wat ná die Tweede Wêreldoorlog oor die stand en status van dié destydse mandaatgebied van Suid-Afrika ontstaan het.

“Deur middel van sy uitstekende onderhandelingsvaardighede en aanvoeling vir strategie het hierdie US-alumnus hom as 'n uitsonderlike transformasieleier bewys wat nie net Namibië na onafhanklikheid help lei het nie, maar beslis ook die weg gebaan het vir die politieke oorgang in Suid-Afrika. Mudge se onvermoeide leierskap in diens van sy land, sy innovasie in die soeke na alternatiewe politieke oplossings vir Namibië sowel as sy buitengewone bekwaamheid op die gebied van veranderingsbestuur is alles kenmerke waarmee die US graag sy gegradueerdes wil toerus,” lui die verklaring deur die universiteit.

Die ander ontvangers is die vooraanstaande musiekwetenskaplike en professor in musiekweten­skap en musiekteorie aan die Universiteit van Princeton in die VSA – die mees gesiene musiekwetenskaplike wat die Afrikavasteland tot nog toe opgelewer het, prof. Kofi Agawu; die meningsvormer, bemiddelaar en versoeningsagent dr. Franklin Sonn; die sake- en hoëronderwysleier dr. Johan van Zyl; die Rwandese regeringsleier, bankier, beleidvormer en kampvegter vir vroueregte dr. Monique Nsanzabaganwa; en 'n baanbreker in rekenaarwese, satelliet-tegnologie en die ingenieurs­wese, prof. Jan du Plessis.

Die Universiteitsraad het die eredoktorsgrade by sy vergadering op 26 September goedgekeur. Die ontvangers sal die eregrade óf in Desember 2016 óf in Maart 2017 ontvang.

Kommentaar

Republikein 2025-06-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer