• Tuisblad
  • Sport
  • Uruguay wag in 2023 WB-toernooi; Chili boender Kanada uit

Uruguay wag in 2023 WB-toernooi; Chili boender Kanada uit

Rugby
Chili se nasionale rugbyspan kan dalk in 2023 vir die eerste keer aan die Wêreldbeker-toernooi deelneem, terwyl Kanada vir die eerste keer in sy geskiedenis nié in die toernooi sal speel nie.
Dit volg nadat Chili daarin geslaag het om Kanada in die Elias Figueroa Brander-stadion in Valparaiso met 33-24 te verslaan.
Die Kanadese het die eerste uitspeelwedstryd met 22-21 gewen, maar Saterdag het Chili hulle ’n bietjie deurmekaar gehardloop.
Die Suid-Amerikaanse span sal nou in nog ’n uitspeelwedstryd teen die VSA speel om te bepaal of hy in 2023 in Frankryk in die WB-toernooi sal speel.
Vir Kanada is dit egter nou vir eers totsiens. Kanada was voor die kragmeting met Chili 21ste op die wêreldranglys en Chili 28ste.
“Dis ’n groot teleurstelling. Ons het hoë verwagtinge van rugby in Kanada,” sê Allen Vansen, uitvoerende hoof van Rugby Kanada.
Kingsley Jones, Kanada se Walliese afrigter, se pos is ook nou in die weegskaal.
Jones het gewaag om meestal jonger spelers te kies en as hy die groep bymekaar kan hou, kan dit in die toekoms vrugte afwerp.
Maar dan sal hy eers sy base moet oortuig dat hy steeds die regte man vir die pos is.
• Uruguay het die naweek seker gemaak van sy plek in die WB-toernooi toe hy die VSA met 34-15 verslaan het.
Uruguay sal in 2023 in dieselfde groep as die gasheerspan Frankryk, Nieu-Seeland, Italië en die voorste Afrika-kwalifiseerder (moontlik Namibië) meeding.
– The Canadian Press, BBC

FOTO’s
Die Namibiese slot Ruan Ludick in aksie teen die Uruguay-toerspan in November 2017, toe die Suid-Amerikaners beide die toetse in Windhoek beklink het (52-36 en 39-34).
Chili se rugbyspan is ’n tree nader aan kwalifikasie vir die WB-toernooi. Foto Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-12-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer