• Tuisblad
  • Sport
  • Uruguay pak Italië in opbou na 2023 WB-toernooi

Uruguay pak Italië in opbou na 2023 WB-toernooi

Rugby
’n Besige tyd wag op die rugbyspan van Uruguay wat vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi in Frankryk gekwalifiseer het.
Volgens die span se amptelike webtuiste sal hy in November teen Roemenië, Tonga, Italië en Wallis speel.
Die Suid-Amerikanse span is veral opgewonde oor die vooruitsig om teen Italië en Wallis te speel aangesien hy behalwe in WB-toernooie maar min kans kry om kragte te meet met die groter toetsnasies.
Die kragmeting met Italië sal op 20 November in Parma in die Stadio Lanfranchi plaasvind, waar Zebre sy tuiswedstryde in die Verenigde Rugbykampioenskap speel.
Die twee lande is in dieselfde groep vir 2023 se WB-toernooi ingedeel en die uitslag sal deur hul ondersteuners met belangstelling dopgehou word.
Voor die kragmeting met Italië speel Uruguay egter eers op 6 November teen Roemenië in Boekarest.
Die wedstryd teen Tonga sal die naweek daarna ook in Boekarest gespeel word.
Die besonderhede oor die wedstryd teen Wallis moet nog verskaf word.
– Netwerk24

FOTO’s
Die Uruguay-span vier fees nadat hy vir die 2023 Wêreldbeker gekwalifiseer het deur die VSA te klop. Op hul tuisveld in Montevideo het die Suid-Amerikaners met 34-15 die bordjies verhang ná die vorige naweek se glips met 16-19. Die VSA moet nou tuis en weg teen Chili uitspeel vir die voorreg om as die tweede kwalifiseerder uit die Amerikas tot die Wêreldbeker deur te dring. Foto Getty Images

Rodrigo Silva, heelagter en vleuel van Uruguay, in aksie teen Georgië in hul 2019 WB-kragmeting.

Kommentaar

Republikein 2026-03-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer