Uraan hou belofte vir 2021
Uraan hou belofte vir 2021

Uraan hou belofte vir 2021

Die geleidelike herstel in die internasionale uraanprys is goeie nuus vir Namibië.
Augetto Graig
Augetto Graig

Die uraanmynbedryf van Namibië staan reg vir wanneer aanvraag vir diá kragbron en die internasionale prys van uraan sal styg, is die kennersmening van die uitvoerende hoof en besturende direkteur van Deep Yellow, mnr. John Borshoff.

Die Australiese mynmaatskappy Deep Yellow doen ernstige verkenningswerk vir uraan in Namibië.

Borshoff het deelgeneem aan ’n virtuele vergadering laas Donderdag, waartydens die Namibiese kamer van mynwese die bedryfsresultate sedert 2019, die impak van Covid-19, asook hul nuwe webwerf bespreek het.

Volgens Borshoff is dit eers in die laaste twee jaar dat die internasionale uraanprys weer merkwaardig begin klim het. Dit het in April vanjaar die US$30 per pond merk verbygesteek.

Te veel beskikbare uraan op die internasionale mark en die sluiting van kernkragstasies het só ’n impak op uraanpryse gehad dat in Kanada tans geen uraanmyn in bedryf is nie, sê hy.

“Talle ander uraanmyne gebruik tans hul reserwes en maak nie vir hulself óf vir die regering ’n wins nie,” sê hy.

“Dit is die Covid-19-pandemie wat met die uraanprys help,” sê hy. Spesifiek het die uitbreek van die pandemie in Kazakstan en die gevolglike produksiestaking by die Kazatomprom-uraanmyn die wêreld se uraanprys opgejaag, sê hy.

“Die prysherstel is egter steeds nie genoeg nie,” sê Borshoff.

Hy noem dat vele uraanmyne met nodige instandhoudingswerk sal wag totdat die prys nader aan US$50 per pond styg – “om nie eens te praat van nuwe myne bou nie,” sê hy.

Hy sê die verbetering in prys kan aan handelaars toegestaan word. Eers wanneer produsente en veral nutsbedrywe begin aankoop, sal ’n groter versterking kom.

Hy sê daar is tans spanning in die mark, “maar ek voorsien die prys sal in 2021 verbeter, in fases en gedryf deur nutsbedrywe. Onthou, daar is amper 500 kernkragstasies wêreldwyd, met China wat 44 het en ’n baie belangrik is, maar ook in die Midde-Ooste, Amerika en Rusland. Namibië is in ’n uitstekende ligging, in die beste situasie, danksy die uitstekende jurisdiksie, goeie administrasie, regulatoriese bedeling en omdat hier moderne nuwe uraanmyne is.

“Die prys sal absoluut hoër klim. Uraan is die kommoditeit van die toekoms,” sê hy.

COVID-19-IMPAK

Die Mynboukamer se uitvoerende hoof, mnr. Veston Malango, het bevestig dat 87 positiewe gevalle van Covid-19 by vier myne in Namibië aangemeld is.

Rössing Uranium het 30 gevalle aangemeld, Swakop Uranium het 28 positiewe werknemers, Debmarine het ses en nog 23 is by Salt and Chemicals aangeteken.

Malango sê alle betrokke nasionale regulasies is gevolg, saam met plaaslike protokol wat spesifiek vir die gebeurlikheid ontwerp is.

Die president van die kamer van mynwese en visepresident van Dundee Precious Metals, mnr. Zebra Kasete, het uitgebrei oor die impak van die pandemie op die mynbedryf in Namibië.

Voorbereiding het mynbou in Namibië in staat gestel om bedrywig te bly te midde van ’n ongekende tyd, met nuwe maatreëls teen die virus, sê hy.

Altesaam N$279 miljoen is deur mynbou vir die land se stryd teen Covid-19 geskenk, sê hy. Inperking het veroorsaak dat kommoditeitspryse geval het, en die Namib Lead & Zinc-myn was ’n slagoffer, met die verlies van 129 werkgeleenthede.

Die diamantbedryf is ook swaar getref, sê Kasete, veral omdat reisbeperkings diamantonderhandelings onmoontlik gemaak het. Verbruiksgoedere, onderdele en ook kenners van gesofistikeerde toerusting kon nie ingevlieg word nie.

Hierteenoor het die prys van goud geklim, sê hy.

Die kamer se voorsitter van die veiligheid- en gesondheidskomitee, me. Barcelona Tsauses, sê die mynboubedryf neem gesondheid ernstig op.

“Mense is ons eerste hulpbron,” sê sy. “Die bedryf monitor veiligheid deurentyd en beskou die handhawing daarvan as ’n prestasie.”

Die kamer van mynwese het vir 2019 erkenning gegee aan Orano Namibia, Walvis Bay Salt Holdings en Rössing Uranium as uitblinkers in terme van veiligheid. Een ongelukverwante sterfte is in 2019 in die mynbedryf aangeteken.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer