Unieke ou tekkies dalk groot geld werd
Unieke ou tekkies dalk groot geld werd

Unieke ou tekkies dalk groot geld werd

Bloomberg – ’n Nuwe Amerikaanse mededinger het pas in Londen geland met sy oë op ’n mark van £200 miljoen vir tweedehandse tekkies.

Die maatskappy, StockX, veil die tekkies aanlyn op.

StockX is nou die grootste so ’n soort diensverskaffer ter wêreld, en het sy eerste hoofkantoor buite die VSA laasjaar Oktober in Londen oopgemaak.

Die produkte waarop StockX fokus, is hoofsaaklik tweedehandse stedelike drag en skoene, maar in Brittanje is die maatskappy veral opgewonde oor die mark vir tweedehandse tekkies wat reeds onafhanklik floreer.

Volgens StockX gaan dié mark met sowat 20% groei in 2019.

“Londen is rêrig die Europese tekkie-kultuur-hoofstad,” het Josh Luber, uitvoerende hoof van StockX, in ’n onderhoud gesê.

“Ná New York en Los Angeles word daar meer voorraad verskeep uit ons Londense tak as enige ander plek ter wêreld.”

StockX het meer as $1 miljard se goedere op sy platform elke jaar en probeer nou sy markaandeel uitkerf in ’n ontluikende Europese mark vir tweedehandse klere en aanlyn modegiere. Hulle ding wel mee met groot name soos Richemont en Zalando, wat ook die mark wil betree.

Die StockX-sakemodel weerspieël grotendeels dié van eBay, maar benader aanlyn veilings wel heelwat anders.

Benewens die herverkoopmark wat StockX bedryf, eksperimenteer die maatskappy daarmee om met handelsname te werk om direk nuwe produkte op hul platform bekend te stel.

In 2017 het StockX so ’n ooreenkoms met Nike bereik wat toe 23 beperkte uitgawe tekkies op die platform opgeveil het vir ’n gemiddelde prys van $6 000 per paar.

“Ons benut nog nie dié strategie op skaal nie, maar ons gaan,” het Luber gesê.

Die Amerikaanse maatskappy het al groot beleggers aangelok, insluitend die akteur Mark Wahlberg en rapper Eminem.

Luber, wat 40 jaar oud is, het die maatskappy in 2016 gestig, en versamel al tekkies sedert hy agt jaar oud was. Vandag het hy meer as 400 pare tekkies wat hy in ’n spesiale “skoenkamer” bo sy motorhuis gestoor word.

StockX beplan nou om ’n fisieke winkel ook oop te maak in Londen om sodoende meer bekend te word soos hulle die Europese mark betree.

Daarna, sê Luber, het hulle hul oë op Asië.

– Bloomberg, verkort/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer