Unam staak vandag
Unam staak vandag

Unam staak vandag

Die vakbond en die universiteitsbestuur het 'n ooreenkoms oor voorwaardes vir die staking bereik.
Augetto Graig
Augetto Graig



Werknemers van die Universiteit van Namibië (Unam) gaan na verwagting vanoggend staak.

Die universiteit het 'n kennisgewing van die beplande staking op sy Facebook-blad gedeel.

Hiervolgens skop die staking om 07:30 vandag af.

Die universiteitsbestuur sê hulle het 'n ooreenkoms met die betrokke vakbond oor reëls vir die staking bereik, waarvolgens toegang tot die universiteit aan studente en nie-stakende werknemers verseker is.

“Studente word daarvan in kennis gestel eksamens gaan soos normaal voort,” lees die kennisgewing.

Studente is ook aangemoedig om die universiteit se interne webwerf, asook sosiale media vir meer inligting dop te hou.



VAKBOND

Die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) verteenwoordig Unam-werknemers in die geskil.

Volgens mnr. Muree Tjiueza van Nantu het 62% van die werknemers ten gunste van 'n staking gestem.

Die staking wentel om die werknemers se eis vir 'n 6%-salarisverhoging, sê hy. Unam en Nantu onderhandel sedert die begin van 2018 reeds oor vanjaar se salarisverhoging.

Aanvanklik het die universiteit glo 6% aangebied, maar die regering se begroting is net genoeg om salarisse mee te betaal.

Kapitaalprojekte is toe gestaak en die aanvanklike aanbod is teruggetrek.

Mnr. Johannes Haufiku, universiteitswoordvoerder, het verlede week bevestig die universiteit verskaf geen verhoging vanjaar nie.

“Die aanbod is tans nul Namibiese dollar. Dít is nie 'n blatante miskenning van die sosioëkonomiese omstandighede waarmee werknemers gekonfronteer is nie, maar eerder te wyte aan beskikbare fondse,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer