Unam nader halfpadmerk steeds aan die voorpunt
Klubrugby
Andrew Poolman - Die halfpadmerk van die 2018 premierliga van die Namibië Rugby-unie word reeds môre bereik, met ses uit die sewe spanne in aksie.
Die spogwedstryd vir die naweek is gewis tussen spanne nommer een en twee op die huidige puntelys.
FNB Wanderers (21 punte) het môre in Pionierspark die tuisvoordeel teen die stoomroller FNB Universiteit van Namibië (27). Die twee spanne het mekaar die afgelope drie jare in die eindstryd gepak en is nie verniet die twee groot voedingsbronne vir die Namibiese amateurspan in die provinsiale SuperSport-reeks nie.
Unam, kampioene sedert 2015 en opnuut voorlopers, het laas Vrydagaand 'n baie nodige wakkerskud gekry, maar het nogtans met die laaste beweging van die wedstryd teen Trustco United die sewe wenpunte vir 'n oorwinning met 25-24 bewerkstellig.
In hul paar vorige wedstryde het die studentespan soms vir lang tye bloot volgens gewoonte gespeel, eerder as met dringendheid omdat niemand oënskynlik in hul nek blaas nie.
Die Namibië Rugby-maatskappy se kontraktering van 'n nasionale groep het Unam én Wanderers van hande vol spelers ontneem, maar beide klubs het ook heelwat diepte.
“Ons het 14 spelers wat nie vir die naweek beskikbaar is nie. Al is dit ontwrigtend om vir soveel naweke amper soos 'n Barbarian-span as vreemde kombinasies te moet saamsmelt, aanvaar ons die uitdaging in 'n positiewe gees.
“Ons het steeds baie vertroue dat ons span goed kan presteer en die Rugby-maatskappy kan inderdaad maar na nóg van ons talentvolle spelers se vermoëns kom kyk,” skerts die Wit Hingste se voorsitter, mnr. Flip Louw.
Louw het ondersteuners aangemoedig om die twee wedstryde in die sogenaamde FNB-derby in goeie getalle te kom bywoon. Die tweede spanne speel om 14:00, voor die eerste spanne om 15:45 uitdraf.
Wanderers se span sou eers by gisteraand se oefening saamgestel word, maar dit is reeds bekend dat sy magtige voorry wat glo gesamentlik by die 420 kg weeg, almal afwesig sal wees. Christo McNish woon 'n troue by, Nian Berg het pligte op die plaas en Gerhard Lötter se knieligamente is geskeur.
• Die hoër geplaaste FNB Suburbs (vierde) en Kudus (vyfde) sal as gunstelinge uitdraf vir hul wedstryde môre teen Rehoboth en Reho Falcon. Die wedstryde is onderskeidelik in Khomasdal en Rehoboth.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie