Uitvoerheffing voor die deur
Estelle de Bruyn
Namibië kan in die 2016-’17-begrotingsjaar tot soveel as N$100 miljoen verdien indien ’n uitvoerheffing ingestel word, soos deur die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, in ’n nuwe wetsontwerp voorgestel word.
Schlettwein het dié langverwagte wetsontwerp om ’n uitvoerheffing in te stel, vandeesweek in die Nasionale Vergadering ter tafel gelê.
Die verdienste uit die heffing kan in die 2017-’18 finansiële jaar tot soveel as N$130 miljoen vir die staatskoffers beteken.
In sy motivering het Schlettwein gesê volgens 2014 se nasionale rekeninge het kommoditeite 70 persent van Namibië se totale uitvoere verteenwoordig. Van die totale waarde van uitvoere was minerale vir 54 persent verantwoordelik.
Tot op hede is hierdie kommoditeite net gedeeltelik verwerk of uitgevoer sonder dat enige waarde daaraan toegevoeg is. Dit het Namibië verhinder om enige voordeel uit bykomende waardetoevoeging te verdien.
Hy wys daarop dat waardetoevoeging tot kommoditeite in ’n land soos Namibië die dryfkrag agter industrialisering behoort te wees, wat werkgeleenthede en welvaart skep en ’n verdiener van buitelandse valuta moet wees. Die uitvoere wat deur die nuwe heffing geraak word, is hoofsaaklik minerale-kommoditeite, vis, gas en ru-olie. Dit is daarop gemik om te verseker dat Namibië se verdienste uit natuurlike hulpbronne verhoog word en moet verdere plaaslike verwerking aanmoedig.
Schlettwein het die versekering gegee dat wyd gekonsulteer is alvorens die wetsontwerp opgestel is.
Die wetsontwerp maak voorsiening vir ’n aanvanklike fase vir heffings op uitgevoerde goedere. Items wat nie nou by die geteikende lys produkte en kommoditeite ingesluit is nie - soos wild, lewende hawe en bosbouprodukte - sal op ’n latere tydstip ook ingesluit word.
Voorts bepaal die wetsontwerp dat ’n verklaring oor goedere wat deur die uitvoerheffing geraak word, aan doeane-owerhede oorhandig moet word. Die wetsontwerp maak ook voorsiening vir die waardasie en die betaling van die heffings, asook strafmaatreëls vir uitstaande heffings.
Die heffing sal deur die direktoraat doeane en aksyns geadministreer word.
Schlettwein het daarop gewys dat sedert met beraadslaging oor die voorstelle vir so ’n heffing begin is, sekere bedrywe, soos die mynbousektor, proaktief opgetree en begin het om die potensiaal van waardetoevoeging te ondersoek.
“Met die kollektiewe steun sal die wetsontwerp groter impetus aan nasionale pogings gee en bydra tot kommoditeitsgedrewe industrialisering en bykomende voordele vir die nasionale ekonomie bied,” het hy gesê.
Mnr. Nico Smit van die DTA het sy teleurstelling uitgespreek dat met ’n uiters tegniese wetsontwerp soos dié, die minister met die ter tafellegging van die wetsontwerp gesloer het tot op die nippertjie voor die NV in reses gaan.
“As parlementslede, hoe kan daar van ons verwag word om reg te laat geskied aan die tegniese inhoud van so ’n wetsontwerp wat van ons vereis om wyd met tegniese deskundiges te konsulteer, ten einde ’n ingeligte holistiese mening in ’n kwessie van een of twee dae te vorm,” wou Smit weet.
Schlettwein het in sy repliek gesê daar was geen negatiewe bedoelings met die laat ter tafellegging nie en het die hoop uitgespreek dat Smit desondanks die wetsontwerp sal steun. Die wetsontwerp is Woensdag vir ’n tweede keer gelees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie