Uittredes bring waterskeiding tussen eras

Van die mees ervare spelers­ in die land se geskiedenis het die einde van die pad bereik.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Die optimistiese toekomsbe­skouing moet natuurlik wees dat vakante posisies vir nuwe talent oopgaan – hoewel die 2019 Wêreldbeker die afsluiting van 'n onvergeetlike era vir verskeie staatmakers van Namibiese rugby oor die afgelope jare was.

Die gesamentlike verlies van honderde toetse se ondervinding in die nasionale span is iets wat die inkomende afrigter volgende jaar met 'n besondere visie sal moet hanteer.

Onder die omstandighede laat Phil Davies, die Namibiese afrigter van 2015 tot 2019, gewis vir sy opvolger 'n uitsonderlik goeie basis om vanaf te begin, sover dit die oorblywende kerngroep se ondervinding betref.

Die verlies van ondervinding aan die einde van Wêreldbeker-siklusse is onafwendbaar, maar die Wallieser was 'n belangrike figuur in die era waarin soveel van die mees ervare toetsspelers in Namibië se geskiedenis onder hom gespeel het.

Inteendeel, op die nasionale rekordlys het elkeen van die toptwaalf spelers met die meeste toetse onder Davies gespeel en van hul beste rugby gelewer – Eugene Jantjies (70 toetse), Chrysander Botha (55), Tinus du Plessis (52), Pieter-Jan van Lill (51), Darryl de la Harpe (50), Johnny Redelinghuys (49), Rohan Kitshoff (45), Johann Tromp (43), Theuns Kotzé (40), Casper Viviers (37), Jacques Burger (36) en JC Greyling (35).

Die 33-jarige skrumskakel Jantjies en 33-jarige senter De la Harpe het beide sedert hul terugkeer uit Japan hul amptelike uittrede uit internasionale rugby op sosiale media aangekondig.

Ná sy vierde Wêreldbeker, die meeste deur 'n Namibiër, het Jantjies verklaar: “Dit was 'n harde en soms goeie reis. Ek is deur moeilike, maar ook genotvolle tye tydens my loopbaan. Ek het altyd onthou om te geniet wat ek doen.

“Ek wil elkeen bedank wat deel van my reis was en daartoe bygedra het. Dankie aan al die ondersteuners wat lojaal was en altyd in my geglo het. Julle was wonderlik.

“Nou is dit tyd vir die volgende reis. Uittrede is nie altyd maklik nie, maar uiteindelik verwerk 'n mens dit tog.”

De la Harpe, 'n veteraan van die 2011, 2015 en 2019 Wêreldbekers, sê: “Rugby was 'n integrale deel van my wese en het my die man gemaak wat ek vandag is.Vir twee dekades was dit deel van my DNS en steeds het die respek en liefde vir die spel nie vervaag nie, maar eerder gegroei.

“Ek is dankbaar teenoor almal wat my loopbaan aangehelp het – my familie, vriende, spanmaats vanaf tjokkerrugby tot op die hoogste vlakke van my loopbaan, die afrigters en bestuurspersoneel en selfs diegene wat nie in my geglo het nie. Sonder julle sou ek dit nie kon doen nie.”



'TYD IS REG'

Die 34-jarige Kitshoff, 'n voormalige kaptein in twaalf toetse, het gister aan die koerant gesê die Wêreldbeker-toets teen Kanada wat afgestel is, sou ook sy laaste gewees het en dat hy sy stewels opgehang het.

Kitshoff is vroeg vandeesmaand reeds bekendgestel as hulpafrigter van FNB Wanderers vir volgende seisoen en het bevestig dat hy ook nie meer beplan om enige klub­rugby te speel nie.

“Ek dink die tyd is reg vir my. Ek wou nog altyd ná rugby by afrigting betrokke raak. 'n Mens het 'n idee in jou kop van hoe jy kan terugploeg en ek sien nogal uit om te sien hoe dit met die werklikheid strook.”

Kitshoff asook die veelsydige agterspelers JC Greyling en Johann Tromp is nie ingesluit in die nasionale oefengroep wat einde verlede week aangekondig is en wat gisteraand onder leiding van mnr. Johan Diergaardt (waarnemende hoofafrigter) met die voorseisoenprogram vir volgende jaar begin het nie.

Kitshoff en Greyling is onderskeidelik derde en vyfde op die rekordlys van voorste driedrukkers vir Namibië, met 22 en 21 drieë.

Tromp is sesde op die lys, met 19 drieë in 43 toetse.

Hoewel die aanduiding was dat Greyling, Tromp en Kitshoff hulle almal van nasionale diens onttrek het, blyk dit uit gesprekke met die spelers dat daar in werklikheid eerder nog geen kommunikasie met hulle was om hul beskikbaarheid te toets nie. Hul verwydering verlede week vanuit die Whatsapp-groep vir nasionale spelers was die eerste veelseggende aanduiding van waar sake staan.

Tromp het gister bondig aan die koerant laat weet: “Weens persoonlike omstandighede het ek besluit om uit nasionale rugby te tree. Ek wil liewer voortaan my tyd bestee in iets wat ek met liefde en passie kan uitleef, soos fietsry of Crossfit.”

Greyling se antwoord op die navraag was: “Ek het geen iemand of groep laat weet of myself uit die groep onttrek nie. Ek is vanoggend (Vrydag) verwyder van 'n groep af, so ja, ek vat eers 'n breek en sal besluit soos die tyd aangaan.”

Hoewel hulle nog nie amptelik hul toekomsplanne uitgespel het nie, is daar ook geen waarborg dat Chrysander Botha (heelagter), Casper Viviers (stut) weer in 'n Namibiese toetstrui gesien sal word nie.

Botha (31) is ondanks sy status as die land se rekorddriedrukker in toetse (28 in 55 toetse) oor die hoof gesien vir die Wêreldbeker in Japan, wat sy derde sou gewees het. Gister het hy aan die koerant gesê dat hy nog nie 'n besluit oor sy onmiddellike toekoms geneem het nie.

Tot 'n sekere mate het Viviers (31) se aandele straks in sy afwesigheid gestyg toe die Namibiese agttal teen die Springbokke 'n vroeë strafdrie afgestaan het en ook nie die rolmale kon keer waarmee die 2019-kampioene gemaklik hul vroeë drieë op die telbord geplaas het. Viviers is weggelaat uit die toerspan ten gunste van die ontluikende jonger geslag stutte.

Ná ure, maande en jare se opoffering, meestal sonder groot geldelike beloning, gaan sit die teleurstelling nie net in spelers se klere indien hulle vir 'n Wêreldbeker-span oor die hoof gesien word nie.

Renaldo Bothma (30), agtsteman van London Harlequins en gewese toetskaptein, het byvoorbeeld onmiddellik sy internasionale uittrede aangekondig toe sy naam nie in die toergroep na Japan uitgelees was nie.

Kommentaar

Republikein 2025-09-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer