Uitstellers verenig . . . mu00f4re!
Uitstellers verenig . . . mu00f4re!

Uitstellers verenig . . . môre!

[email protected]
Sanet de Waal
Gerine Hoff

Van uitstel kom afstel, sê die idioom. . .

Dis juis seker hoekom die volgende item op jou doenlysie al ’n geruime tyd oorstaan, of hoe?

Hoekom is dit in ’n mens se geaardheid om te wil uitstel?

Dit kan byvoorbeeld so eenvoudig en vinnig wees soos ’n e-pos of telefoonoproep (waarskynlik aan iemand waarvan jy nie vreeslik hou nie). Jy weet dit gaan net ’n minuut of twee uit jou dag neem, maar tog “kom jy nie daarby uit nie”.

Jy spandeer in wese meer tyd om daaroor na te dink, as wat die fisieke proses gaan neem.

En as jy weer sien, is dit dae later en jy het dit nog steeds nie gedoen nie!

Nou die dag lees ek ’n berig oor uitstel en uitstellers. Kom ons wees nou maar eerlik, ons almal was al daar. Is daar ’n rede hoekom die mensdom geneig is om uit te stel?

Ja, daar is al baie studies daaroor gedoen. Die slotsom? Mense wat aanhoudend uitstel, is meer geneig om hoër vlakke van stres, slegte slaappatrone en slegte werksvooruitsigte te hê. Dus is geen vorm van uitstel goed vir jou gesondheid nie.

Volgens ’n professor in sielkunde aan die Universiteit van Sheffield in Engeland kan uitstel ook aan depressie en angs gekoppel word, omdat ons blykbaar op ’n dieper vlak nie net ons verpligtinge teenoor ander verbreek nie, maar teenoor onsself ook.

Hulle sê dis maklik om te verstaan dat ons groot take uitstel omdat dit angswekkend en geestelik uitputtend kan wees, maar ook gewoonlik tyd, energie en toewyding verg.

Tog is dit die klein molshopies wat mettertyd ’n berg word. En nee, die wetenskaplikes sê dit gaan nie oor swak tydsbestuur nie, maar eerder oor swak bui-bestuur.

Op die ou einde kan dit jou vermoë om probleme op te los heeltemal in die wiele ry.

Hoekom is klein take geneig om op te hoop? Blykbaar omdat daar nie ’n streng “deadline” daarvoor is nie, en gevolglik word dit heel “conveniently” net verder op jou lysie afgeskuif.

Nou, hoe gemaak?

Die slimmes sê as daar ’n klein takie is wat afgemerk moet word, doen dit onmiddellik eerder as om dit by ’n taaklysie te voeg.

Volgens Timothy Pychyl (skrywer van Solving the Procrastination Puzzle), as jy dadelik iets doen, sonder om twee keer daaroor te dink, sal jy waarskynlik in die lang termyn beter daaraan toe wees.

Ek dink David Allen, skrywer van Getting Things Done, stel dit ewe goed: As ’n spesifieke taak minder as twee minute gaan neem, hoef dit nie eens op jou doenlys te wees nie.

Nog ’n manier om kleiner take aan te pak, is om dit tussen ander take in te pas. Om byvoorbeeld gou skottelgoed te was terwyl daar advertensie op TV is.

Die kenners is dit gelukkig eens: Jy hoef jouself nie te straf as jy dinge uitstel nie. Soms is dit regtig net dat jy een ding bo die ander prioritiseer.

Tog blyk dit die geheim is om nie te veel te dink oor klein jakkalsies wat jou dag versuur nie, maar eerder om die bul by die horings te pak en nie te dink nie, maar net te doen!

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer